Oorwinnaars - 31 Maart 2015
Stephan Hoffman
Wie in die Seun van God glo, besit die getuienis in sy hart; wie God nie glo nie, maak Hom tot leuenaar, omdat hy nie die getuienis glo wat God oor sy Seun gelewer het nie. En die getuienis behels dít: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie. 1 Johannes 5:10-12
Lees gerus die hele hoofstuk van 1 Johannes 5:1-21
Oorwinning. Dit is wat ons ontvang het. Jesus Christus het die dood oorwin, die verhouding met die Vader herstel en Hy bly in ons deur die werking van die Heilige Gees. Ons is waarlik oorwinnaars in Christus! Daar is niks in die lewe of in die wêreld wat groter, sterker en magtiger is as God se liefde vir ons nie.
In die Ou-Testamentiese tyd was die getuienis van drie mense as waarheid aanvaar. Johannes sê dat die Gees, water en bloed getuig oor Jesus Christus. Die ewige lewe van Christus en sy geboorte en dood op aarde getuig dat Hy die Here is. Jesus Christus is self die bron van lewe.
Johannes sê: “Wie die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie”. Het jy die Seun van God? As jy ja antwoord, dan kan jy ook verseker weet dat jy die ewige lewe het. Jy het ook die belofte dat God na jou gebede luister as jy met Hom praat. Ons word aangemoedig om ook vir mekaar te bid en mekaar te ondersteun, sodat ons nie sal aanhou om sonde te doen nie, maar vir God sal lewe.
Wanneer laas het jy regtig vir iemand anders gaan bid? Wanneer laas het jy op jou knieë gegaan en nie net vir jou eie behoeftes gevra nie, maar ook vir die van ander mense. Ons moet versigtig wees dat selfs ons gebede nie deurweek word met ons eie sondige selfsug nie, maar vervul sal word met die Heilige Gees. Ons behoort mekaar se belange op die hart te dra.
Jy is ‘n verloste sondaar wat die Waaragtige God leer ken het in Jesus Christus. In Christus is jy nou ‘n oorwinnaar en jy hoef nie te vrees vir die Bose of vir die dood nie, want Jesus Christus het klaar oorwin en Hy leef! Kom ons gaan leef nou as mense wat uit God gebore is, mense wat ‘n nuwe ewige lewe ontvang het saam met God.
Gebed: Almagtige God, dankie dat U klaar die Bose, die sonde en die dood oorwin het. Dankie dat ek saam met U ‘n oorwinnaar kan wees in Christus. Here daar is soveel mense wat ek ken wat groter behoeftes as ek het. Help my asseblief om hulle vandag raak te sien en hulle ook te ondersteun met dade van liefde. Amen.