Vers n dag - 6 Oktober
3.   Hoe dien ek die koninkryk met my tyd?
Hennie Symington
Skrifgedeelte
Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ‘n goddelose tyd.  Efes. 5:16 -16
ʼn Gejaag na wind?
Mense krioel soos miere deur die strate. Hulle kom en hulle gaan. Sommige hardloop, ander stap op ʼn drafstappie. Die motors toeter om hulle haas te kenne te gee, terwyl die vragmotors op ʼn slakkepas die tyd wat hulle gewen het weer verspil. Mense jaag om nie tyd te mors nie. Hulle jaag die tyd agterna om tyd te wen.
Die tyd loop uit
Tog is daar tyd vir niks: “Totsiens, sien jou later... Ek kan nie wag nie... Ek het nie tyd nie...Ek moet klaar maak ... Ek wil jou graag help maar ek het nie tyd nie...Ek kan nie dink nie, ek kan nie lees nie en - ja – ek kan nie bid nie.â€
“Here, U moet verstaan, ek het nie tyd nie. My kinders moet leer Die swemles, die hokkiewedstryd kan nie wag nie. My bejaarde ouers ken nie meer die waarde van tyd nie – hulle wil al my tyd opslurp. My man met al sy opdragte laat my tyd soos water deur my vingers glip.â€
En so jaag ons almal agter tyd aan. Ons hardloop deur die lewe - haastig, geïrriteerd, belas. Die Here, moes sekerlik ʼn fout gemaak het in sy berekenings. Die ure is te kort, die dae gaan te gou verby, ons lewe snel ten einde voor ons werklik gelewe het.
Tyd behoort nie aan jou nie
Omdat tyd ʼn gawe is wat uitloop en nie hernubaar is nie, moet ek juis leer ek is nie ʼn slaaf van die tyd nie. Ek moet dit bestuur om aan my lewe sin te gee en sodat ek aan die einde van die tyd my tyd aan die Skepper kan terugbesorg en kan sê: Here, ek het tyd wat u my gegee het – die ure, die dae, die jare. - gebruik om u Koninkryk op aarde te bou.
Here, ek vra u nie vir tyd om dit of dat te doen nie maar vir u genade om die tyd wat u my gegee het met wysheid te bestuur. sodat u Koninkryk mag kom..