Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Onsekerheid, liefde en geloof - 22 April 2015

Xanthe Hancox

Toe ek dus nie langer kon uithou nie, het ek vir Timoteus gestuur om vas te stel hoe dit met julle geloof staan: of die verleier julle nie reeds verlei het en al ons harde werk dalk op niks uitgeloop het nie.  1 Tessalonisense 3:5

Ek het 'n teorie oor bekommernis wat soos volg lui: bekommernis is die vorm wat liefde aanneem wanneer ons nie meer weet wat om te doen nie. In die meeste gevalle is dit waaroor ons bekommerd is, nie op sigself sleg nie. Jy is bekommerd oor jou man of vrou wat in die nag op pad is, so jy bekommer jou totdat hulle veilig tuis is. Jy is bekommerd oor jou kinders wat in 'n ander land werk of reis, want jy kan nie hulle veiligheid waarborg nie. Jou vriende of ouers nader aftrede en jy is bekommerd oor hulle finansies en die ekonomie.

Ons bekommer ons met goeie rede, maar as ons eerlik wil wees, hierdie bekommernisse is nutteloos.  Jy wens jy kan iets doen aan die situasie, maar jy kan nie, so jy bekommer jou.  Ek bekommer my oor alles, so die feit dat Paulus hom ook oor sake bekommer het, is vir my 'n troos. Hy het sy vorige gemeente liefgehad, hy gee om vir hulle en hy bekommer hom oor hoe dit met hulle gaan. Hy het egter besef dat hy alleen niks kon doen om hulle teen gevaar te beskerm nie. Op 'n stadium het hy net besluit om op te hou om hom te bekommer en sy medewerker, Timoteus, te stuur om te gaan vasstel hoe dit met die gemeente in Tessalonika gaan.

En, al was dit miskien later duidelik dat hy hom verniet opgewerk en bekommer het, (wat ook die geval was) moes Paulus vir Timoteus stuur sodat hy kon ophou om hom te bekommer en kon aangaan met sy eie werk. Bekommernis is nutteloos as ons nie iets prakties aan die saak kan doen nie. En as dit heeltemal onmoontlik is vir ons om iets aan die saak te doen, moet ons dit laat gaan en dit aan die Here toevertrou. In Matteus 6 leer Jesus ons dat ons Vader weet wat ons nodig het.

Ons moet ook onthou wat Paulus in die nag wakker gehou het, was sy bekommernis oor die geloof van die Tessalonisense. Waaroor bekommer jy jou die meeste wanneer jy oor iemand bekommerd is? Bekommer jy jou oor hulle geloof? Genoeg om iets prakties daaraan te doen?

Gebed: Here, ons mors so baie tyd deur ons onnodig te bekommer. Leer U my hoe om iets prakties te doen aan sake waaroor ek my bekommer en om boweal op U te vertrou. Help my om te onthou dat al wat regtig saak maak, is of diegene wat ek liefhet U as hulle Verlosser en Saligmaker aangeneem het. Amen

Previous article: Ons is geroep om heilig te lewe - 23 April 2015 Prev Next article: Bestem vir vervolging - 21 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.