Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Bestem vir vervolging - 21 April 2015

Xanthe Hancox

Ons het vir Timoteus, ons broer en medewerker in diens van God, wat saam met ons die evangelie van Christus verkondig, na julle toe gestuur om julle in julle geloof te versterk en moed in te praat sodat nie een van julle onder die vervolginge sou begin wankel nie. Dat ons ter wille van ons geloof vervolg sal word, staan vas. Dit weet julle. Toe ons nog by julle was, het ons julle al gewaarsku dat ons vervolg sal word, en soos julle weet, het dit ook gebeur.  1 Tessalonisense 3:2-4

Indien julle Tessalonisense sover Tsaam met my gelees het, sal julle weet dat dit vir Paulus 'n probeem is dat hy deur afstand en omstandighede van die Christene in Tessalonika geskei is. Hy is in Athene, sonder Skype, Facebook of Whatsapp, en hy voel magteloos om hulle met hulle probleme te help. Paulus besluit om Timoteus na hulle toe te stuur om die gelowiges in Tessalonika te bemoedig. Terselfdertyd gee hy ons 'n insig in vervolging en lyding.

Eerstens beklemtoon hy dat vervolging en probleme sal kom. Kort nadat die Tessalonisense hulle vertroue in Jesus geplaas het, het hulle begin om probleme te ondervind. Die "probleme" waarna Paulus verwys, het met hulle geloof in Jesus Christus te make. Sommige van ons ondervind ook as gevolg van ons geloof probleme, miskien van jou gesin, kollegas of klasmaats. Miskien word jy op 'n ander manier getoets, deur siekte, finansiële probleme, trauma, die dood van 'n geliefde of deur egskeiding.

Tweedens kan hierdie vervolging of probleme die mees toegewyde Christen ontwrig. Keer op keer vertel Paulus die Christene dat probleme oor hulle pad sal kom. Paulus ken die menslike neiging om in moeilike tye God te blameer of om te twyfel, daarom stuur hy Timoteus om te verseker dat die Tessalonisense goed voorberei sal wees sodat hulle wanneer die moeilike tye kom, vas in die geloof kan staan.

En verder is vervolging en probleme nie net iets wat sommer net gebeur nie. Paulus wil sy vriende verseker dat die probleme wat hulle ondervind nie net per ongeluk is nie, of deel van die noodlot of slegte karma nie, maar dat lyding deel is van om 'n volgeling van Jesus te wees. Dit is 'n gemeenskaplike ondervinding wat Christene oral beleef.

Miskien bevind jy jou vandag in 'n moeilike tyd. Dink dan aan hoe Paulus die Tessalonisense aangemoedig het om ook in die moeilike tye in hulle geloof te volhard. Onthou ook dat God jou bron van genade, vrede en volharding is. Onthou dat Hy in jou lewe werk en besig is om jou karakter te vorm en jou tot volwasse geloof te lei.

Soos die Tessalonisense kan ons ons soms so vaskyk teen ons probleme dat ons ons hoop vir die toekoms vergeet. Onthou ook "dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie." (Romeine 8:18)

Gebed: Here, vergeef my al die kere wat ek toelaat dat my probleme my hart verhard. Skenk aan my die genade om te volhard en om te onthou dat deur die lyding wat ek ondervind U my meer en meer na die beeld van Jesus vorm.  Amen

Previous article: Onsekerheid, liefde en geloof - 22 April 2015 Prev Next article: Things that last - 20 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.