Volhard enduit - 30 April 2015
Xanthe Hancox
Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. 1 Tessalonisense 5:23-24
Sal ek dit maak? Sal ek eendag werd genoeg geag word om die hemel in te gaan? Ek ken Jesus en ek vertrou op Hom as my Verlosser, en ek weet dat Hy weer sal kom. Alhoewel ek die begeerte het om so te leef dat ek Hom behaag, slaag ek nie altyd daarin nie. Om die waarheid te sê soms misluk ek heeltemal. Dit laat my wonder wat as Jesus weer kom op 'n tydstip wat ek heeltemal misluk om volgens sy wil te leef. Hoe gaan Hy my oordeel? En wat van al die uitdagings wat oor my pad kom om my geloof te ondermyn? Gaan ek nog teen die einde van my lewe 'n gelowige wees?
Wanneer ek met al hierdie gedagtes worstel, vind ek Paulus se seënbede aan die einde van 1 Tessalonisense baie bemoedigend. Die God wat ons roep om heilig te lewe is dieselfde God wat dit vir ons moontlik maak om heilig te lewe. God vergewe ons nie ons sondes en dan laat Hy ons alleen om op ons eie te probeer om heilig te lewe nie. Hy maak ons heilig, Hy skenk aan ons genade, en Hy verander ons om meer en meer soos Jesus te wees. Ons kan dit nie self vermag nie.
Ons hoef nie te wonder of bekommerd te wees of ons onberispelik sal wees wanneer ons Jesus weer kom nie. God is getrou; ons kan op sy belofte vertrou om ons na gees, siel en liggaam te bewaar. Deur Jesus sal ons onberispelik wees wanneer Hy weer kom en ons sal die heerlikheid wat Hy vir ons voorberei het, binnegaan. Loof die Here!
Gebed: Dankie Here vir die waarheid en troos van u woord. Gee aan my elke dag die vertroue dat deur Jesus Christus, my Verlosser, ek die ewige lewe het. Maak my heilig, en help my om elke dag te groei om meer soos U te wees en bewaar my geloof tot die einde. Amen