Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Saam met God by die werk - 4 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: "Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy."  Genesis 2:15-17

Die Bybelgenootskap het in samewerking met prof Piet Naudé (tans Direkteur, Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool) 'n Bybelgedeelte oor God en werk die lig laat sien. In die volgende dae nooi ons julle om saam met ons te kyk na wat die Bybel leer oor hoe ons met integriteit moet leef en werk, met ander woorde hoe wil God hê ons moet leef en werk. Hoe moet ons ons daaglikse werk doen sodat ons God tevrede stel en ook seker kan wees van sy seën.

Die Bybel is in 'n ander era geskryf, maar dis vol eeue oue wysheid en spreek verskeie vraagstukke wat ons vandag raak reguit aan, insluitende baie van die vraagstukke waarmee ons by die werk te doen het.

Of jy hierdie Bybelgedeeltes lees as 'n werkgewer of as 'n werknemer, in 'n bestuursposisie of op grondvlak – jy sal verbaas wees oor hoe toepaslik hierdie Bybelverse vandag nog klink. Lees in die dae wat kom die Bybelverse, pas dit toe in jou werksituasie en ontdek dat jy jou werk asook die seën van die Here in jou lewe kan geniet.

Kom ons spring weg en kyk wat sê die Bybel oor die werkplek. Van die vroegste tye af is werk gesien as 'n seën. Ons lees in Genesis dat God sy skeppingswerk geniet het. Die volgende refrein kom regdeur al die stadiums vandie skeppingsproses voor: "En God het gesien dit is goed."  Genesis 1:4,10,12,18,21,25

Reeds van die begin is God se opdrag dat ons in sy skepping moet werk. Toe God die man en vrou geskep het, het Hy hulle geseën en hulle in beheer geplaas van alles wat Hy geskep het. Hy wou hê dat hulle in gehoorsaamheid aan Hom moes werk en sy seën geniet. Daarby het hulle 'n baie duidelike posbeskrywing gehad.

In Genesis 1 lees ons: "God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: 'Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.'"  Genesis 1:27-28

Toe Adam en Eva egter aan God ongehoorsaam was, het Hy gesê dat hulle hulle lewe lank hard sou moes werk om 'n bestaan te kan maak.

Vir die mens het die Here God gesê: "Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit 'n bestaan maak, jou lewe lank; die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word."  Genesis 3:17-19

Is jou werk vir jou 'n seën?

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die voorreg om te kan werk. Dankie dat u Woord ons leer hoe ons moet leef en werk. Dankie vir u seën wat ons so ryklik ontvang. Amen

Previous article: Werk is 'n gawe - 5 Mei 2015 Prev Next article: Volhard enduit - 30 April 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.