Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vertrou op God - 6 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

In die volgende dae gaan ons tien bybelse riglyne ondersoek wat ons kan volg om ons werk só te doen dat ons God tevrede stel en ook seker kan wees van sy seën.  Die eerste riglyn is vertrou op God.

Ons hoor dikwels van "selfgemaakte miljoenêrs" en van mense wat spog met hulle sakevernuf. Die Bybel leer ons dat ons niks sonder God se hulp kan bereik nie. Dit waarsku ons om nie planne te maak asof ons ons eie toekoms beheer nie en ook om nie al die eer vir die sukses wat ons bereik vir onsself toe te eien nie.

In Deuteronomium lees ons: "Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf. Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog."  Deuteronomium 8:17-18

Reeds in die Nuwe Testament maan Jakobus die Christene om nie op hulle eie krag staat te maak nie, maar op die Here te vertrou. Sy skrywe geld ook vir ons: "Kom nou, julle wat sê: "Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en 'n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak." Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar 'n damp wat 'n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: "As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen." Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Al sulke grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde."  Jakobus 4:13-17

Vandag in jou werkplek, of jy nou 'n belangrike besstuurder, 'n huisvrou 'n pensioenaris of miskien sonder werk is: "Laat wat jy doen, aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk. Spreuke 16:3

Gebed: Here help ons om U te vertrou in alles wat ons doen. Amen

Previous article: Werk hard (1) - 7 Mei 2015 Prev Next article: Werk is 'n gawe - 5 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.