Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Werk is 'n gawe - 5 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit 'n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie? Prediker 2:24-25

Gister het ons geleer dat werk 'n opdrag van God is. Ons het ook geleer dat as gevolg van Adam en Eva se ongehoorsaamheid God gesê het dat hulle (en ook ons) hulle lewe lank hard sou moes werk om 'n bestaan te kan maak. En tog ervaar die mens vreugde in arbeid as 'n gawe van God. Alles wat ons ontvang en geniet is 'n gawe uit die hand van God.

Die Prediker leer ons verder dat werk blydskap bring: "God gee aan 'n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is 'n gawe van God. So 'n mens dink skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap wat God gee."  Prediker 5:18-19

Werk is 'n gawe van God waarvoor ons dankbaar moet wees. "Telkens wanneer jy genoeg geëet het, moet jy die Here jou God dank vir hierdie goeie land wat Hy aan jou gegee het. Deuteronomium 8:10

Jesus self leer ons egter oor die belangrikste werk waarvoor ons hier op aarde is. Jesus het gesê: "Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee."  Matteus 6:33

Werk is 'n gawe nie 'n straf nie.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die gawe van werk. Here, gee ook dat my dagtaak nie so belangrik word dat ek vergeet om my eers vir u koninkryk te beywer en om u wil te soek nie. Amen

Previous article: Vertrou op God - 6 Mei 2015 Prev Next article: Saam met God by die werk - 4 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.