Werk hard (2) - 8 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
In die Nuwe Testament lees ons dat Paulus byvoorbeeld ook die waarde van harde werk besef het. Hy het die evangelie verkondig, maar hy was ook 'n tentmaker om in sy eie lewensbehoeftes te kon voorsien.
Paulus skryf aan Titus: "Ons mense moet ook leer om met eerlike werk in die noodsaaklike lewensbehoeftes te voorsien. Dan sal hulle lewe nie onvrugbaar wees nie."Titus 3:14
Uit die gedeelte wat hier onder volg is dit duidelik dat Paulus dit veral het oor gelowiges wat leeglê en nie wil werk nie. Paulus veroordeel nie mense wat om een of ander rede nie 'n werk het nie, hy het dit oor Christene wat nie wil werk nie en hulle eerder met ander se sake bemoei.
"Ons beveel julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus: Onttrek julle aan elke broer wat leeglê en hom nie hou aan die opdragte wat julle van ons ontvang het nie. Julle weet self watter voorbeeld ons vir julle gestel het om te volg. Ons het nie daar by julle leeggelê of op ander geteer nie. Inteendeel, ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle 'n las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het op onderhoud van julle nie, maar ons wou vir julle 'n voorbeeld wees wat julle moet volg. Toe ons nog by julle was, het ons vir julle uitdruklik gesê: "As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie." Ons sê dit omdat ons verneem dat daar mense by julle is wat leeglê, wat self nie werk nie en hulle net met ander se sake bemoei. Sulke mense beveel en gebied ons op gesag van die Here Jesus Christus dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood verdien. Wat julle betref, broers: Moenie moeg word om goed te doen nie. En as iemand nie ons bevele, soos ons dit in hierdie brief vir julle gee, gehoorsaam nie, sonder dan daardie man af en vermy hom, dat hy kan skaam kry. Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer." 2 Tessalonisense 3:6-15
Miskien is daar iemand in jou lewe wat nie wil werk nie. Lees weer vers 15 van 2 Tessalonisense 3. "Moet hom egter nie soos 'n vyand behandel nie, maar wys hom tereg soos 'n broer."
Gebed: Here Jesus, help my om vandag uit te reik na hulle wat graag wil werk, maar om een of ander rede nie 'n werk het nie. Help my ook om die moed te hê om diegene wat nie wil werk nie, tereg te wys. Amen