Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wees eerlik - 11 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Die Bybel het iets te sê oor baie van die probleme wat ons vandag by die werk teëkom. Die volgende paar dae gaan ons 'n bietjie kyk wat sê die Bybel oor eerlikheid in die werkplek.

Diefstal is tans 'n groot probleem in die werkplek. Dit kan wissel van die neem van klein items vir persoonlike gebruik tot die verduistering van groot bedrae geld. Ons moet God eer deur heeltemal eerlik te wees in alles wat ons doen en sê by die werkplek. Die Woord van God, van die tien gebooie tot by die Nuwe Testament waarsku ons oor diefstal en oneerlikheid.

Kom ons lees saam uit die Ou Testament. Van die agtste gebod tot in die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, leer die Bybel ons dat diefstal en leuens verkeerd is in die oë van die Here.

"Jy mag nie steel nie."  Eksodus 20:15; Deuteronomium 5:19

"Julle mag nie steel nie en julle mag nie lieg of mekaar bedrieg nie."  Levitikus 19:11

"'n Dief word verag as hy steel, ook al steel hy om sy honger te stil, en as hy uitgevind word, moet hy sewevoudig teruggee, selfs al kos dit hom alles wat hy besit."Spreuke 6:30-31

"Toe sê die engel vir my: "Dit is die vervloeking wat oor die hele aarde strek, want elke dief het tot nou toe ongestraf gebly, en elkeen wat 'n vals eed aflê, het tot nou toe ongestraf gebly." Ek stuur die vervloeking, sê die Here die Almagtige. Dit sal in die dief se huis ingaan, en in die huis van dié wat in my Naam 'n vals eed aflê. Dit sal daar bly en die huis verwoes, hout en klip, alles."Sagaria 5:3-4

"Dan sal Ek na julle toe kom as regter: Ek sal sonder versuim regspreek teen dié wat hulle met toordery ophou, teen die egbrekers en dié wat vals ede aflê, teen dié wat die dagloner te kort doen, die weduwee en die weeskind veronreg en die vreemdeling verdring, teen dié wat nie vir My eerbied het nie, sê die Here die Almagtige."  Maleagi 3:5

Die Nuwe Testament beklemtoon ook dat geen diefstal in die werkplek tuis hoort nie.

"As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee."  Efesiërs 4:28

"Die slawe moet in alles aan hulle eienaars onderdanigwees en hulle tevrede stel. Hulle moenie teëpraat of iets vat nie; hulle moet bewys dat hulle in alles betroubaar is. So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog." Titus 2:9-10

Kom ons doen ons werk vandag op 'n eerbare manier soos ons Koning van ons verwag.

Gebed: Here Jesus, help my om vandag en elke dag met die leiding van u Heilige Gees te alle tye eerlik in my werk te wees. Amen

Previous article: Korrupsie en omkopery - 15 Mei 2015 Prev Next article: Werk hard (2) - 8 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.