Rus gereeld - 18 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Jy kan ook te veel probeer doen. Jy sloof jou af, verwaarloos jou persoonlike verhoudings en raak vasgevang in 'n nimmereindigende dolle gejaag. Jy kan later verleer om te rus en selfs skuldig voel wanneer jy nie werk nie. Die ritme van werk met gereelde rustye tussenin is sedert die skepping vasgelê. Om te kan rus, wys dat jy nie 'n slaaf van jou werk is nie. Diegene wat hulle nie aan hierdie beginsel steur nie, sal nie enduit kan presteer nie. As God gerus het, waarom sal ons dan nie sy voorbeeld volg nie?
"Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het." Genesis 2:1-3
"In ses dae moet jy jou werk doen, maar op die sewende dag moet jy nie werk nie sodat jou beeste en donkies kan uitrus en jou werksmense en die vreemdelinge by jou 'n bietjie kan asem skep." Eksodus 23:12
"Ses dae moet jy werk, maar op die sewende dag moet jy rus. Of dit nou ploegtyd of oestyd is, jy moet rus." Eksodus 34:21
"Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig." Eksodus 20:8-11
Die lewe bestaan uit meer as net werk. Maak seker dat jy genoeg tyd het vir God, vir jouself en ook om met jou gesin deur te bring. Herlaai die batterye gereeld. Die Bybel leer ons dat ons ook moet rus. Dit sal van jou 'n baie meer produktiewe mens by die werk maak.
Gebed: Here, dankie dat U ons leer dat dit belangrik is om ook te rus. Help my om nie so in my werk vasgevang te word, dat ek U en my gesin verwaarloos nie. Amen