Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Bou goeie verhoudings - 15 Mei 2015

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Ons hoor dikwels dat werknemers 'n maatskappy se grootste bate is. Daarom is die verhoudings tussen mense in die werkplek van uiterste belang. Arbeidsonrus en ongemotiveerde werknemers kos die ekonomie jaarliks miljoene rande. Aan die ander kant is goeie arbeidsverhoudings die grondslag van 'n stabiele en winsgewende organisasie. Hiervoor is wedersydse vertroue en respek nodig, asook die besef dat almal – werkgewer en werknemer (eienaar en slaaf in die tyd van die Bybel) – onder die gesag van die Here staan. Hy verwag van werknemers om elke dag hard te werk en billike vergoeding te ontvang.

"Jy mag nie jou naaste uitbuit of hom beroof nie. Jy mag nie 'n dagloner se loon terughou tot die volgende dag nie."  Levitikus 19:13

"Jy mag nie 'n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al 'n volksgenoot is of 'n vreemdeling wat by jou woon in een van jou land se stede. Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon. As jy dit nie doen nie, sal hy by die Here kla oor jou en sal jy skuldig wees." Deuteronomium 24:14-15

"Slawe, wees gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde, en doen dit met eerbied en ontsag maar terselfdertyd met 'n opregte hart, asof dit vir Christus is. Moenie net werk om deur julle eienaars raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie; werk soos slawe van Christus wat van harte die wil van God doen. Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie. Julle weet tog dat die Here elkeen sal beloon as hy iets goeds gedoen het, of hy nou slaaf is of vry.  En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie."  Efesiërs 6:5-9

"Wie sy vyeboom versorg, sal vye hê om te eet; wie omsien na sy werkgewer se belange, sal daarvoor eer ontvang."  Spreuke 27:18

Of jy nou 'n werknemer of werkgewer is, werk vandag aan jou verhouding met almal in jou werkomgewing. Betoon die nodige respek en doen jou werk met lus, soos vir die Here.

Gebed: Here Jesus, ek moet bely dat dit nie altyd maklik is om met almal by die werk oor die weg te kom nie en ek bid dat U my sal help om die mense om my met vertroue en respek te behandel. Amen

Previous article: Rus gereeld - 18 Mei 2015 Prev Next article: Wees tevrede - 14 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.