Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers n dag - 12 Oktober

7.    As jou koninkrykie God se koninkryk uitsluit

Hennie Symington

Skrifgedeelte

Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede. Hand. 2:41-42

As jou wêreld net om jou draai

Om jou toe te kokon is ʼn tipiese instink van mense wat bedreig voel deur ʼn wêreld wat vir hulle te kompleks, of net te erg geword het. Hierbinne hulle eie ideale klein wêreldjie hoop hulle om weg te kruip en hulle geliefdes te koester en te beskerm, en het vrede met die wêreld daarbuite. Al wat saak maak is ek en my eie.

Ongelukkig, soos in enige paradyssituasie, steek die slang kort voor lank kop uit. ʼn Sosioloog of antropoloog sal jou baie gou vertel dat gemeenskappe wat so in hulleself gekeer is, nie kan gedy nie. Die 21ste eeu het juis ʼn behoefte aan ʼn spiritualiteit wat wys dat God steeds teenwoordig is in die wêreld en dat sy Woord steeds iets te sê het vir vandag se mense.

In plaas daarvan om die lewe in ’n glasborrel te idealiseer, moet ons dit ten sterkste betreur dat soveel mense dit as die beste oplossing op hulle geestelike pad sien. Eintlik is dit ʼn mosie van wantroue in God as jy. ten spyte van wat jy sê jy glo, nie kan aanvaar dat jou geloof steeds ʼn rol het om te speel in die moderne wêreld nie.

Jy is deel van ʼn gemeenskap

Die 17e eeuse Engelse prediker en digter John Donne het gese: Geen mens is ’n eiland nie; elke mens is deel van die kontinent, ’n stukkie van die geheel. John Wesley, die vader van die Metodiste, het weer die Christelike geloof as ʼn “sosiale” godsdiens beskryf. Die Ou en die Nuwe Testament gaan oor die volk van God, van gemeenskap, van omgee vir mekaar  en van solidariteit met mekaar. Ons volg nie verniet die Een, Jesus Christus, wat Dietrich Bonhoeffer beskryf het as  “’n mens vir ander” nie.

Here, U is my beskermer en my heil. Ek sal nie wegskram van die wêreld waar U my geplaas het om ’n stukkie van U koninkryk te laat kom nie.

Previous article: Vers n dag - 13 Oktober Prev Next article: Vers n dag - 11 Oktober Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.