Aanvaar jou sosiale verantwoordelikheid - 20 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Rykdom en voorspoed is nie doelwitte op sigself nie. Volgens die Bybel seën God ons sodat ons – nadat ons in ons eie basiese behoeftes voorsien het – meer sal hê om in ander se behoeftes te voorsien. God plaas die armes, die weeskinders, die weduwees en die vreemdelinge in ons sorg. Hy sal ons geloof beoordeel aan ons optrede teenoor mense soos hulle. Sosiale verantwoordelikheid is nie net daar om ons openbare beeld te bevorder nie; dis 'n vereiste vir ware en opregte diens aan God.
"Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is." Hebreërs 13:16
"Wanneer jy jou lande afoes en jy vergeet 'n gerf op die land, moet jy nie omdraai om dit te gaan haal nie. Dit moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. Dan sal die Here jou God jou seën in alles wat jy aanpak. Wanneer jy olywe afslaan van jou olyfboom af, mag jy nie agterna weer gaan afslaan nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. Wanneer jy jou wingerd oes, mag jy nie agterna weer gaan oes nie. Wat agtergebly het, moet bly vir 'n vreemdeling of 'n weeskind of 'n weduwee. Jy moet onthou dat jy in Egipte 'n slaaf was. Dit is waarom ek jou beveel om al hierdie dinge te doen." Deuteronomium 24:19-22
"Dan sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: 'Kom, julle wat deur my Vader geseën is! Die koninkryk is van die skepping van die wêreld af vir julle voorberei. Neem dit as erfenis in besit, want Ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek.' Dan sal dié wat die wil van God gedoen het, Hom vra: 'Here, wanneer het ons U honger gesien en U gevoed, of dors en U iets gegee om te drink? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien en U gehuisves, of sonder klere, en vir U klere gegee? Wanneer het ons U siek gesien of in die tronk en U besoek?' En die Koning sal hulle antwoord: 'Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.' " Matteus 25:34-40
"Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld." Jakobus 1:27
"Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed." Spreuke 19:17
"As jy jou ore sluit vir die hulpgeroep van 'n arm mens, sal jý ook nie antwoord kry as jý roep nie." Spreuke 21:13
"Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?"1 Johannes 3:16-17
Die Bybel maak dit baie duidelik wat God van ons verwag. Dit wat jy uit sy hand ontvang, is nie net vir jou eie gebruik nie. Hy verwag dat ons mededeelsaam sal wees.
Gebed: Hemelse Vader, u Seun het sy lewe vir ons afgelê. Help ons om deur u Heilige Gees nie diegene wat minder as ons het sal vergeet nie. Help ons om dit wat ons het in liefde met ander te deel. Amen