Betaal jou belasting - 21 Mei 2015
Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Daar bestaan geen twyfel dat die Bybel die betaling van belasting onderskryf nie. In die tyd van die Nuwe Testament was die vraag oor belasting vir die Jode polities 'n sensitiewe saak aangesien hulle onder die Romeinse regering gestaan het. Selfs in hierdie situasie word die regering se reg om belasting te hef erken, maar ons moet steeds in gedagte hou dat ons ook 'n verantwoordelikheid teenoor God het.
"[Die skrifgeleerdes en die priesterhoofde] het hulle kans afgewag. Toe stuur hulle geheime agente wat hulle as opreg voorgedoen het, om Jesus op een of ander uitspraak te probeer vastrek sodat hulle Hom aan die owerheidsgesag van die goewerneur kon uitlewer. Hulle vra Hom toe: "Meneer, ons weet dat u in u prediking en onderrig regsinnig is. U let nie op die aansien van persone nie. U is getrou aan die waarheid, en so maak u die wil van God bekend. Is dit reg dat ons aan die keiser belasting betaal, of is dit nie?" Maar Jesus het deur hulle slimstreek gesien en vir hulle gesê: "Wys vir My 'n muntstuk. Wie se kop en naam is daarop?" Hulle antwoord: "Die keiser s'n." Toe sê Hy vir hulle: "Nou ja, gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Lukas 20:20-25
"Dit is ook waarom julle belasting betaal, want die owerhede is dienaars van God en hulle is besig om hulle opdrag uit te voer. Gee dus aan almal wat hulle toekom: belasting as dit belasting is, aksyns as dit aksyns is, ontsag as dit ontsag is, eer as dit eer is." Romeine 13:6-7
Baie van ons voel soms dat al wat ons doen is werk om belasting te betaal. Belasting is ook soms moeilik om te verstaan. Selfs Einstein het by geleentheid gesê: "die moeilikste ding in die wêreld om te verstaan is inkomstebelasting." Miskien waar, maar ons as Christene moet onthou dat dieselfde etiese en morele waardes wat vir die res van ons lewens geld, geld ook wanneer ons belasting moet betaal.
Gebed: Here, help ons om te alle tye eerlik te wees, ook wanneer ons belasting moet betaal. Ons bid dit in u Naam. Amen