Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Geloof in aksie - 27 Mei 2015

Mims Turley

Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Sê nou daar is 'n broer of 'n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood. Maar iemand kan miskien sê: “Die een het die geloof en die ander het die dade.” Goed, wys dan vir my jou geloof wat sonder dade is, en ek sal jou my geloof wys uit my dade.  Jakobus 2:14-18

Ongelukkig ken ons almal mense wat soos Christene praat, hulle ken al die regte woorde op die regte tyd, maar wanneer dit kom by werk om byvoorbeeld na ander uit te reik, is hulle nooit daar nie. Die meeste gemeentes sal vir jou sê dit is maar altyd dieselfde mense wat aanmeld as daar gevra word om by die sopkombuis te help, of Saterdag 'n bietjie tyd met die vigs-wesies te gaan spandeer of met die bejaardetee te help.

Hierdie gedeelte uit Jakobus is nogal een waaroor Christene soms hewig kan verskil. Dit is baie duidelik dat Jakobus nie hier sê dat ons vir ons 'n pad hemel toe kan oop werk nie. In Johannes lees ons immers dat Jesus vir Tomas gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie." (Johannes 14:6) en toe die bewaarder vir Paulus en Silas vra wat moet hy doen om gered te word antwoord hulle hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”  (Handelinge 16:31)

Wat Jakobus hier in ons teksgedeelte beklemtoon is eevoudig dat die tipe persoon vir wie geloof slegs bestaan uit twee woordjies, naamlik "ek glo", se uitdrukking van geloof word ook afgewater.  Dit is die soort mens wat "geniet die dag" vir die hawelose persoon wat oor sy pad kom sal sê en dan dink dat hy genoeg gedoen het.

Vir Jakobus begin geloof met 'n woord – die Woord van waarheid wat aan ons lewe gee (Jakobus 1:18). En dan moet ons, aan wie die Woord lewe gegee het, daardie Woord teenoor ander uitleef. Geloof is nie staties nie, dit lei tot aksie.  Indien daar geen aksie is nie, is dit nie geloof nie.

Leef ons werklik ons geloof? Kom, elkeen van ons doen vandag biddend hierdie toetsie: Op 'n skaal van 1-10 (met 10 die belangrikste) hoe belangrik is dit wat vir God belangrik is (byvoorbeeld om jou geloof met ander te deel of om in die behoeftes van ander te voorsien) vir jou?

Gebed: Here, ek moet bely dat ek nie altyd my geloof uitleef soos U dit van my verlang nie. My gebed is dat U my deur u Gees sal lei om met oorgawe en aksie my geloof teenoor ander te leef. Amen

Previous article: Dink voordat jy praat - 28 Mei 2015 Prev Next article: Beproewing en blydskap - 26 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.