Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Beproewing en blydskap - 26 Mei 2015

Mims Turley

Van Jakobus, 'n dienaar van God en die Here Jesus Christus. Aan die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is. Groete! My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.  Jakobus 1-4

Beproewing is nou nie juis 'n woord waarvan ons hou nie. Die woord skilder 'n prentjie van lyding, van swaarkry en dikwels van trane. Iets wat elkeen van ons eerder sal wil vermy indien moontlik.

In ons teks hier bo sê Jakobus iets wat nog erger op die oor val. "My broers, [en seker susters ook] julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom …"

Vir my, en ek is seker vir baie van julle, is dit twee sake wat moeilik bymekaarkom – beproewing en blydskap.  En tog, Jakobus stel dit duidelik dat die beproewings wat oor ons kom nie sommer maar net dinge is wat sonder rede met ons gebeur nie," … as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming."  Dit is rede tot blydskap.

My seun het onlangs die Londen Marathon gehardloop. Oor maande het hy baie hard geoefen, in hitte en koue het hy sy oefenprogram gevolg. Die gimnasium is gereeld besoek. Soms was daar seer spiere, krampe en moegheid. En tog het hy volhard want hy het geweet as hy die marathon wil voltooi het hy nodig om deur al die pyn en lyding te gaan om sterk te word. En hoe groot was die blydskap nie toe hy oor die eindstreep hardloop en ons kon laat weet: "Ek het dit reggekry!"

Ons as Christene het ook 'n "oefenprogram" waarby ons moet hou. Ons het die Bybel om gereeld te lees en te bestudeer en te hoor wat God van ons verlang en ons het die gawe van gebed om direk met God te kan kommunikeer.

Ons gaan nie doelbewus vir beproewing en moeilike situasies soek nie, maar wanneer dit wel kom, het ons "oefenprogram" ons sterk gemaak. Ons het hoop en geloof in God en ons weet ook dat Hy altyd by ons is. "My belofte wat Ek met die uittog uit Egipte aan julle gemaak het, sal Ek nakom: my Gees sal altyd by julle bly. Moenie bang wees nie!" Haggai 2:5

Beproewing stel ons in staat om te volhard. En dan is daar die belofte dat as ons end-uit volhard sal ons tot volle geestelike rypheid kom.  Is dit nie rede tot blydskap nie?

Gebed: Here, help my om U te vertrou dat my geloof die toets sal deurstaan wanneer beproewings oor my kom. Skenk aan my u blydskap en vrede. Amen

Previous article: Geloof in aksie - 27 Mei 2015 Prev Next article: Kom in en deel in my vreugde! - 25 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.