Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Hoekom stry ons? - 29 Mei 2015

Mims Turley

Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.  Jakobus 4:1-3

Stryery onder mense is alledaags en gee dikwels aanleiding tot baie pyn en hartseer.  Stryery onder Christene is ongelukkig ook iets wat gereeld voorkom. Die koerante, veral die Sondagkoerante, berig gereeld met groot smaak oor Christene in die kerk wat rusie maak.  Ons almal weet van kerkrusies wat so handuit ruk dat van die lidmate soms die kerk verlaat en by 'n ander kerk aansluit. Maar dit is nie net in die kerk waar Christene stry nie. Soms maak 'n Christen egpaar so rusie dat dit op 'n egskeiding uitloop of 'n familie wat die Here ken, begin stry oor die pa of ma se testament en raak vervreemd van mekaar.  Dit maak nie saak waaroor dit handel nie, rusies tussen Christene doen altyd skade.

Jakobus vra waar kom die rusies onder ons Christene vandaan?  Hy antwoord dit met 'n teenvraag – "Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?" Hy maak dit duidelik dat ons selfsugtige begeertes die oorsaak is wat aanleiding gee tot rusies en bakleiery.  Jakobus draai geen doekies om oor die motivering vir ons alewige rusies nie en hy vergelyk dit selfs met moord.  Ons is jaloers en begeer iets van iemand anders en omdat ons dit nie kan kry nie, loop dit uit op 'n bakleiery en stryery.

So die oorsprong van al hierdie rusies en bakleiery spruit uit ons selfsugtige begeertes. Jakobus motiveer dit deur te sê ons begeer altyd iets van iemand anders en as ons nie ons sin kan kry nie, stry ons. Mense regverdig dikwels hulle aksies verder deur die sogenaamde noodsaaklikheid daarvan te beklemtoon. Mens hoor dikwels iemand sê: "Ek moes dit net eenvoudig doen want ander sou dit of dat gebeur!" Jakobus sê egter daar is 'n heeltemal ander aksie wat ons kan neem in plaas van 'n bakleiery en dit is gebed.

In vers 2 sê Jakobus: "Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.  In Jakobus 1:5 lees ons: "… God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt."  Jakobus waarsku egter dat as ons met die verkeerde motiewe bid, gaan ons nie ontvang nie.  Jakobus maak dit duidelik dat God heilig en rein is en dat Hy niks met die kwaad te doen wil hê nie. "Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.  Jakobus 1:13

Jakobus maak dit baie duidelik dat Christene se stryery onder mekaar daarop dui dat daar iets verkeerd is met ons verhouding met God en dat dit in ons gebedslewe manifesteer. Óf ons bid nie omdat ons nie op die genade van God vertrou nie, óf ons bid wel met die verkeerde motiewe want ons onthou nie dat die God tot wie ons bid, heilig en rein is nie.

Gebed: Here, dankie vir u Woord waaruit ons elke dag kan leer. Help my om vandag met liefde na my mede-Christene uit te reik. Leer my ook elke dag deur u Heilige Gees om reg te bid. Amen

Previous article: Dag 1: Vreesloos Vorentoe - 1 Julie 1015 Prev Next article: Dink voordat jy praat - 28 Mei 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.