Dag 1: Vreesloos Vorentoe - 1 Julie 1015
Maandtema: Vreesloos Vorentoe
Deur Benescke Janse van Rensburg
Floyd Mayweather, Jr versus Manny Pacquiao. Dié boksgeveg op 2 Mei vanjaar in Las Vegas, Nevada was deur verskeie nuusbronne as “die boksgeveg van die eeu” beskryf. Met 300 miljoen dollar prysgeld (meer as R3 biljoen) is dit te verstane waarom dié boksgeveg die wêreld se verbeelding aangegryp het.
In aanloop tot die boksgeveg is verskeie dokumentêre programme oor beide boksers uitgesaai. Met Mayweather se rekord van byna vyftig gevegte sonder om verslaan te word, het ’n Amerikaanse sportkommentator hom in ’n onderhoud voor die geveg gevra of hy stres om teen Pacquiao te veg. Dié het immers ook ’n baie goeie wen-rekord. Sonder enige aarseling het Mayweather geantwoord: “Ek sien Pacquiao net soos enige van my vorige opponente. Hy bly ’n opponent. Die oomblik as ek ’n naam of gesig begin koppel aan die opponent sal dit my affekteer. Ek berei dus voor om bloot teen ’n opponent te gaan boks.” Mayweather het die geveg gewen.
Mayweather se woorde het my laat dink aan ons daaglikse geveg op aarde. In Efesiërs 6 lees ons dat die stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Die vyand gebruik vrees om ons te verlam. Dit veroorsaak dat ons perspektief verloor. Dit steel ons selfvertroue en maak ons passief. Dit veroorsaak ook dat ons vergeet hoe almagtig God is en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.
In ’n stadium in Dawid se lewe moes hy dag in en dag uit voor Saul en sy manskappe vlug. In hierdie situasie kon hy toegelaat het dat vrees hom onderkry, maar hy het gekies om sy vertroue in God te plaas. Kyk weer na sy woorde in Psalm 118:5–6: “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ’n mens aan my doen?” Ook in Psalm 91:7 lees ons: “Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”
Die vyand sal altyd jou gedagtewêreld met vreesgedagtes probeer betree. Só gee ons die opponent ’n gesig en krag om ons te affekteer. Wat staar jy vandag in die gesig? ’n Finansiële krisis? Dreigemente van ’n egskeiding? ’n Krisis met jou kind? Aflegging by die werk? Siekte? Koppel jy ’n naam aan jou uitdaging of sien jy die situasie bloot as ’n opponent terwyl jy jouself herinner aan wie God is en wat Hy kan doen? Sterkte.
Vader God, dankie dat U my beskerm. Help my om perspektief te behou wanneer opponente my pad kruis en te onthou dat Jesus reeds die vyand aan die kruis verslaan het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na