Dag 10: Vreesloos Vorentoe - omdat God goed is - 12 Junie 2015
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Oor die afgelope paar dae het verskeie lesers getuig wat God in hul lewens gedoen het. Hier is uittreksels uit ’n paar e-posse. Deel gerus jou getuienis by
Leser 1, Mauritz: “Vyf jaar gelede was ek werksaam by ’n groot internasionale firma toe ’n groep van ons oor die November-Desember tydperk afgelê word. Dit was ’n skok vir ons almal. Ek het ’n keuse gehad om by ’n nuwe firma te gaan werk óf my eie ding te doen en het daarom 'n klomp CV's uitgestuur.
Terwyl ek weer oor die saak gebid het, het die woorde in Mattheus 14:22 een oggend vir my uitgestaan met hierdie woorde duidelik in my gedagtes: ‘Klim uit die boot (die veilige vaste omgewing) en loop op die water (geen logiese ondersteuning) na Jesus toe. Kyk vas in sy oë en moenie oogkontak verloor nie. Vertrou absoluut op Hom en moenie toelaat dat golwe (die ekonomiese toestande) of die donker water (vrae oor hoe ek op my eie sou bestaan) jou onderkry nie. Moet ook nie terugkyk na die boot (veilige werksomgewing) nie. Hou net vir Jesus dop in totale afhanklikheid en jy sal nie sink nie.’
Ek het my eie besigheid begin as ’n onafhanklike besigheidskonsultant. Vandag is dit vyf en ’n half jaar later en ek werk steeds vir myself met een werknemer en ek verdien meer as wat ek by die groot internasionale firma verdien het. Dít is die waarde om daagliks oogkontak met Jesus te behou. Hy bly my hoofvennoot in my besigheid.”
Leser 2: “Toe ek uitvind dat my man ontrou aan my was, het dit my bykans verpletter. Ek kan egter vandag getuig dat God my die krag gegee het om volkome te vergewe – en ook te vergeet. Dit is vandag 10 jaar later en as ek terugkyk weet ek dat met jou hand in Jesus s’n, enigiets moontlik is. Dit was die beste ding wat ek kon doen. Ons as gesin is in eenheid en kan saam verkondig dat ons Pa die Koning is. Dit is alles net genade!"
Leser 3: “Nadat ek die gedeelte van 'ek sal self' gelees het (Maandag, 8 Junie 2015), het ek besef dat die boodskap vir my en my man is. Ons het die laaste ruk alles self probeer doen en beleef tans 'n krisis aangesien ons nie God in ons planne geken het en Hom toegelaat het om ons te lei nie. Van vandag af gaan ons dit verander. Terloops, ons het twee klein kindertjies, 21 maande en 3 en half jaar oud. As ek dink hoe ek voel as ek hulle net wil help as hulle alles 'self' wil doen, kan ek dink hoe God moet voel as Hy ons wil help en ons wil ‘self’.”
Leser 4, Cathari-Ann: “Verlede Desember het ek vir my seun, Christopher in London gaan kuier. My wens was om sneeu te sien aangesien ek dit nog nooit beleef het nie. London was koud, maar daar was geen sprake van sneeu nie. My seun het vir ons ’n ‘road trip’ Skotland toe beplan. Aangesien sy lisensie verval het en ons ’n motor gehuur het, moes ek bestuur. Hy het die adres in sy telefoon se GPS ingevoer en ons het vertrek - met hom as navigator.
Ons het ’n groot gedeelte op die snelweg gebly en in ’n stadium het die GPS-aanwysings ons van die snelweg af geneem. Alhoewel dit vir Christopher nie sin gemaak het nie, het ons tog die aanbevole roete gevolg. Na sowat 50km was my seun redelik ontsteld omdat dit ’n ‘country road’ en nie ’n hoofpad was nie. Ons wou net omdraai toe ons skielik in ’n sneeubedekte omgewing inry. Ek het net daar gestop, uit die motor gespring en in ’n plaas se landery ingehardloop. My hart het gejuig, want ek het geweet dit was ’n geskenk van God aan my omdat Hy het my hartsbegeerte geken het! Ons het vir die res van ons reis nooit weer sneeu gesien nie.”
God is ’n goeie Pa vir ons elkeen. In Psalm 136:1 skryf die Psalmdigter: “Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie.” En in Psalm 100:5 lees ons: “ ... die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag.” God wil ons lei wanneer ons wysheid benodig in die werkplek, Hy wil ons in staat stel om te vergewe en vergeet omdat Hy weet dat ons in die proses vry word; Hy wil ons lei en help al sê ons ook soms ek sal “self”; en Hy wil sy goedheid aan ons kom demonstreer deur ons diepste hartsbegeertes ’n werklikheid te maak. Wanneer laas het jy Hom geloof en geprys omdat Hy goed is vir jou? Sterkte.
Vader God, baie dankie dat u U goedheid aan ons wil demonstreer deur situasies waarin ons onsself bevind. Help my asseblief om U vandag raak te sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Kyk na fotos van die lesers by www.benescke.co.za.
- Vir terugvoer of om jou getuienis te deel, stuur gerus 'n e-pos na