Dag 9: Vreesloos Vorentoe ... omdat jy jou eindbestemming ken - 11 Junie 2015
Deur Benescke Janse van Rensburg
[Een van die mees algemene vrese uit lesers e-posse is ’n vrees vir die dood. Wat wag daarna op ons? Kan ons seker weet waarheen ons op pad is? Wat van ons ongelowige familielede of vriende?]
’n Jaarlikse hoogtepunte vir my en my broer en suster wat in die Vrystaat grootgeword het, was die destydse Bloemfonteinse Reënboogskou. Nie soseer die stalletjies deur die loop van die dag as die pretpark met sonsondergang. Dáár het ons op die stampkarre, skulpe en die groot boot gery wat heen en weer swaai. Die groot gunsteling was egter die treintjie. Vier mense sou in ’n trokkie sit wat ’n roete met styl opdraandes, onverwagse draaie en vinnige afdraandes op die spoor gevolg het. Die laaste stuk van die roete het gewoonlik veroorsaak dat insittendes gil en klou vir hul lewens wanneer die trokkie teen ’n steil afdraande afjaag om by die eindpunt te stop.
Kan jy dink watter vrees jou moet beetpak as jy voor in so ’n trokkie sou sit en agterkom dat die remme van julle trokkie ingegee het terwyl julle ’n ander trok teen ’n hoë spoed nader en jy weet dat ’n botsing onafwendbaar is? Dít is wat by die Alton Towers pretpark in Staffordshire, Brittanje gebeur het. Nie net is die insittendes wat voor in die trokkie gesit het in die botsing ernstig beseer nie; ’n Jong meisie het ’n been in die slag verloor.
Op aarde is ons ook in ’n “trokkie” op ’n roete soos die treintjie in die pretpark. Soms beleef ons styl opdraandes, ander tye onverwagse draaie en nog ander vinnige afdraandes. Omdat God ons geskape het met ’n vrye wil, kan ons egter kies om Hom óf deel van ons reis te maak óf ons kan dit alleen aandurf. Die verskil is dat as Hy deel is van ons lewens ons met ons sterfdag (wanneer die rit eindig), in sy teenwoordigheid kan instap. Dit teenoor ’n rit wat soos die een by Alton Towers in ’n ramp verander wanneer ons sterf en ’n ewigheid sonder Hom betree.
Kan ons seker weet dat ’n lewe na die dood op ons wag? In Johannes 11:25-26 praat Jesus met Martha nadat sy vir hom gesê het dat haar broer, Lasarus nog sou leef as Jesus vroeër gekom het: “‘Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie…”
Wat moet ons doen om die ewige lewe te beërwe? Ons moet ons sondes bely en Jesus Christus as Verlosser aanneem. In Romeine 10:9 lees ons: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.”
Wat van ons ongelowige geliefdes? In 2 Korintiërs 3:14 lees ons dat die vyand ongelowiges se oë met ’n sluier bedek sodat hulle nie die waarheid beleef of wil aanvaar nie. Dink maar aan al die vrugtelose gesprekke wat jy al met jou ongelowige geliefdes gehad het. Net soos God jou nie gaan forseer om Hom te dien nie, kan jy ook nie jou man, vrou, kinders of vriende forseer om Hom te kies nie – al wil jy so graag. Wat jy wél kan doen, is om te bid, want daar is geweldige krag in gebed. Op die einde is dit in elk geval die Heilige Gees wat harte aanraak en versag. Dit is ook Hy wat geleenthede skep vir daardie sluier om af te val sodat ons geliefdes die waarheid kan beleef.
Kom ons beweeg dus vreesloos vorentoe deur die lewe met die wete dat ons op aarde kan verseker dat ons op pad is na ’n eindbestemming in God se teenwoordigheid as ons sterf. En kom ons hou aan bid vir ons geliefdes wat Hom nog nie ken nie, sodat hulle ons ook mettertyd soontoe sal vergesel. Sterkte.
GEBED AS JY NOG NIE SEKER IS WAAR JY EWIGHEID GAAN SPANDEER NIE:
Vader God, ek kom vandag na U toe in die Naam van Jesus Christus. Ek besef dat ek op my eie ’n sondaar is wat nooit in u oë kan doen wat reg is nie. Ek kies daarom vandag om Jesus Christus die Redder van my lewe te maak. Vul my met u Heilige Gees en lei my daagliks om ’n sterker verhouding met U te bou. Dankie dat ek dit kan bid in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.