Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 12: Vreesloos vorentoe met sterk wortels - 17 Junie 2015

Deur: Benescke Janse van Rensburg

Wanneer laas het jy ’n palmboom bestudeer? Dit is een van die sterkste bome wat ons het. Nie net kan dit in dorre, droë omgewings oorleef omdat die wortels van die boom diep in die grond afgroei na die naaste water nie. Dit bly ook staande te midde van ’n orkaan wanneer sommige ander bome wortel en tak uit die grond geruk word. Hoe? Die palmboom is geskep met die vermoë om om te buig. Dit kan byna horisontaal met die grond buig, maar nie breek nie. Sodra die storm dan verby is, kom die boom bloot weer regop. Sterker. Met dieper wortels. As mens kyk na videogrepe van palmbome in ’n orkaan, lyk dit selfs of hulle dans in die storm. 

Soms gaan ons deur dorre, droë tye in ons lewens waarin dit voel asof God van ons vergeet het. Ons bid, maar dit voel asof ons gebede in die dak vasslaan omdat ons nie dadelik ’n verandering in ons situasies beleef nie. Óf ons gaan deur orkaansterkte storms in ons lewens in die vorm van ’n egskeiding, dood, finansiële verlies, siekte of ’n onregverdige aflegging by die werk. Dié seisoene in ons lewens skep ’n geleentheid vir ons wortels om dieper in die grond af te groei terwyl ons God se aangesig soek.  

In Psalm 92:13 lees ons: “Die regverdiges sal sterk wees soos palmbome, soos hoë seders op die Libanon.” Ook in Johannes 4:14 sê Jesus dat Hy die lewende water is: “. . . wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” En in Hebreërs 13:5b sê God: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Beleef jy tans droë of stormagtige tye in jou lewe? Kom ons strek ons wortels na die Een wat ons dors vir ewig les en kom ons herinner onsself dat God die stormwinde kan stilmaak en dat ons ook, nadat ons omgebuig het, weer kan regop kom. Sterker.  Met dieper wortels en nader aan God. Inteendeel, ons kan soos die palms dans in die storm met die wete dat ons nie alleen is nie. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat ek my lewe voor U kan neerlê. Lei my asseblief om te midde van droë, maar ook stormagtige tye nader aan U te groei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

  • Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 13: Vreesloos vorentoe sonder aanstoot - 18 Junie 2015 Prev Next article: Dag 11: Vreesloos vorentoe omdat God jou uit enige donker put kan trek - 15 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.