Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 13: Vreesloos vorentoe sonder aanstoot - 18 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Slappap is wat my 2-jarige dogtertjie, Joalé elke oggend wil eet. ’n Paar oggende gelede is ons effens laat en in die haas gly die soutpot terwyl ek die pap aanmaak en ’n bietjie meer sout as wat nodig is beland in die pot. Met beperkte tyd tot my beskikking kon ek nie die pap van vooraf maak nie. Ek het gedink dat die pap nie te sleg smaak nie, maar Joalé het egter net ’n paar happe geëet voordat sy met ’n frons die bordjie aan my teruggegee het – duidelik ontevrede met die smaak van die pap.

 Die volgende paar oggende het ek egter tevergeefs vir Joalé slappap gemaak. Al was dit dié keer perfek en al het ek selfs ’n bietjie suiker oorgegooi om dit meer aanloklik te maak, wou sy niks weet nie. Sy wou nie eens daaraan proe nie!

Een oggend besluit ek toe dat ek vir oulaas die pap vir haar sal maak bloot omdat ek weet hoe baie sy daarvan gehou het. As sy dit weer nie wou eet nie, sou ek dit vir goed wegpak. Ek het die pap gemaak en dit in ’n bordjie voor haar neergesit. Sy wou nog protesteer toe ek op die ingewing van die oomblik die lepel vat, ’n klein bietjie van die pap daarop skep en dit in haar mond sit sodat sy dit kon proe. Vir ’n oomblik was dit stil. Ek het ’n tranedal verwag, maar in stede daarvan het ’n glimlag verskyn met die woorde: “Nog, asseblief Mamma”. Daardie oggend het Joalé sommer twee borde slappap geëet.

In ons lewens het ons ook soms slegte ervarings. Ons kry seer wanneer ’n romantiese of vriendskapsverhouding eindig. Ons kry seer in die huwelik wanneer ons huweliksmaat onsensitief optree. Of ons neem aanstoot in die kerk of in die werkplek wanneer iemand ons teleurstel of met hul woorde seermaak. Net soos my dogtertjie, na een slegte ervaring, nie meer van haar gunsteling pap wou eet nie, begin ons ook mure om ons bou en onsself isoleer in ’n poging om nie weer seer te kry nie.  

Aanstoot weerhou ons egter van God se beste vir ons lewens. Luister maar na die woorde in Spreuke 18:19: “’n Mens kan nie maklik inkom in ’n stad wat sterk mure het nie, ook nie in ’n paleis wat ’n sluitbalk aan die poort het nie. Jy kan ook nie maklik praat met ’n broer wat kwaad is vir jou omdat jy iets verkeerd gedoen het aan hom nie.” (Die Bybel vir Almal)

Is jy vandag soos daardie stad met sterk mure rondom jou? Onthou, vergifnis bring vryheid in ons lewens. Dit breek die mure af en stel God in staat om sy beste vir ons te gee. Een romantiese verhouding het dalk nie uitgewerk nie, maar God beplan dalk vir jou iemand wat veel beter by jou pas. Jou huweliksmaat het dalk onsensitief opgetree en jou seergemaak, maar deur hom of haar nou keer op keer te probeer “terugkry”, versuur jy jou eie lewe. Een vriendskap het dalk geëindig, maar solank jy jouself isoleer gaan jy nooit die veel beter vriende en vriendinne ontmoet wat God oor jou pad wil stuur nie. En solank jy God blameer vir die mense in die kerk wat jou teleurgestel het, gaan jy nooit sy teenwoordigheid in jou lewe kan ervaar soos wat Hy vir jou bestem het nie.

God het vir ons planne van voorspoed en nie teëspoed nie. Die Psalmdigter sê dat goedheid en guns ons sal volg al die dae van ons lewens. Die bordjie besonderse lekker pap is opgeskep. Dit staan voor jou. Kom ons laat sak ons mure anders gaan ons nooit proe hoe lekker dit smaak nie. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U vir my planne van voorspoed en nie teëspoed beplan. Help my asseblief om aanstoot uit my hart en lewe te hou en U beste vir my raak te sien. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na terugvoer@versndag.co.za. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 14: Vreesloos Vorentoe - omdat God dit moontlik maak - 19 Junie 2015 Prev Next article: Dag 12: Vreesloos vorentoe met sterk wortels - 17 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.