Dag 15: Vreesloos vorentoe met positiewe gedagtes - 22 Junie 2015
Deur Benescke Janse van Rensburg
Rory McIlroy is tans die wêreld se voorste gholfspeler. Dit was egter nie altyd so nie. Op 10 April 2011 was die 22-jarige gholfspeler op die laaste dag van die Amerikaanse Meesterstoernooi in Augusta met vier houe die voorloper en gunsteling om te wen – sy eerste groot gholftoernooi. Stres en spanning het egter die oorhand gekry. Rory het sy konsentrasie verloor en dit reggekry om die swakste rondte in die geskiedenis van die toernooi te ewenaar. Dit was só ’n openbare vernedering dat talle sportkommentators gewonder het of Rory ooit sou herstel.
Twee maande later het Rory sy kritici verras en die Amerikaanse Ope Gholftoernooi met ’n rekord van 16 houe onder baansyfer gewen. Dié keer het hy die gholfwêreld in vervoering gehad terwyl sportkommentators na hom as die nuwe “Tiger Woods” van die gholfarena begin verwys het.
Wat het Rory gehelp om terug te veg na die skokkende nederlaag op Augusta? In ’n onlangse artikel antwoord hy dié vraag soos volg: “Ná Augusta het ek met ’n paar mense gesels en besef dat ek op die dag heeltemal te gefokus was. Alles het oor daardie laaste rondte gegaan. Ek het daarmee gaan slaap en opgestaan. Ek het konstant daaraan gedink – wat verkeerd kon loop. Dit het my totaal angstig gemaak.”
Vandag is Rory se strategie egter heeltemal anders. “Ek skakel af na elke hou wat ek gespeel het en gesels met my gholfjoggie oor die jongste fliek wat ek gekyk het of ’n sokkerwedstryd. Eers wanneer ek die bal nader om die volgende hou te speel sal ek weer begin fokus. Só is daar nie tyd om te dink aan wat verkeerd kan loop of vir negatiewe gedagtes of twyfel wat my kan beetpak nie. Al waarvoor ek tyd het, is om die hou te oorweeg wat gespeel moet word, my gholfstok uit my sak te trek, te visualiseer waarheen dit moet gaan en dan die hou te speel.”
Rory se woorde het my laat besef dat ons daagliks, net soos professionele sportlui, in die strik kan trap om te gefokus te raak op wat potensieel verkeerd kan gaan. Só raak ons angstig en begin leef ons in vrees. in Efesiërs 6:11 herinner Paulus ons om daagliks die wapenrusting aan te trek: “Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.” En dan in vers 17: “Sit verlossing as helm op.” Ook in Romeine 12:2 lees ons: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” En in Filippense 4:8 gee Paulus die volgende raad vir ons gedagtewêreld: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”
Laat jy toe dat negatiewe gedagtes jou oorweldig of kan jy reeds in jou geestesoog in geloof sien hoe God jou huwelik herstel, julle in staat stel om julle eie huis te bekostig, hoe die dokter jou gesond verklaar, hoe jy twee strepies op die swangerskaptoets sien na jare se gebede of hoe jy eindelik in die paadjie afstap op jou troudag na die besonderse man wat God vir jou uitgekies het?
Wat ons visualiseer vir ons lewens (positief of negatief) word mettertyd ons werklikheid. Ons kan dus óf soos Rory op Augusta die swakste rondte in die geskiedenis ewenaar óf ons kan ’n toernooi wen met ’n rekord van 16 onder baansyfer! Sterkte!
Vader God, dankie dat ek daagliks die wapenrusting kan aantrek. Help my om doelbewus negatiewe gedagtes gevange te neem en met positiewe gedagtes te vervang omdat ek weet dat U vir my planne van voorspoed en nie teenspoed het nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
- Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na
This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it. . Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.