Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 16: Vreesloos vorentoe ten spyte van dorings - 23 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

[Een van die lesers skryf ’n paar dae gelede: “Hoekom neem dit so lank as ’n mens vir God iets vra? Ek is al 8 jaar geskei en bid al amper so lank vir iemand om lief te hê en iemand wat my sal liefhê. Ook iemand wat lief is vir God en wat sal goed wees vir my twee seuns. Bid ek verkeerd? Dit voel soms vir my asof God van my vergeet het en daar niemand vir my is nie.”

Wat is die doring of dorings in jou gemoed? Vir bogenoemde leser is dit eensaamheid. Ek is seker die doring steek veral seer wanneer sy ’n gelukkige paartjie sien, hoor van ’n vriendin wat ’n goeie man ontmoet het of wanneer haar twee seuns in situasies verkeer waar hulle dringend ’n pa-figuur vir leiding en ondersteuning benodig.  

Dorings in ons lewens is egter nie altyd negatief nie. Soms is dit juis daar om ons op ons knieë en naby aan God te hou. Paulus het dit besef. In 2 Korintiërs 12:7-9 skryf hy: “... sodat ek nie hoogmoedig sou wees nie, is daar vir my 'n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van Satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. . .”

Soms neem God die doring vinnig weg deur aan die eensame ’n maat te gee, deur die siekte te genees of deur die ongelowige huweliksmaat of kind tot inkeer te bring. Ander kere vat dit ’n bietjie langer. En soms, soos vir Paulus neem God nie die doring weg nie omdat dit juis ’n spesifieke doel dien en ons naby aan Hom hou.

Sê ek dat God bogenoemde leser se doring van eensaamheid nie gaan verwyder nie? Hoegenaamd nie. God is op ’n unieke reis met ons elkeen. Hy weet wat ons kan hanteer en wat nie en Hy weet wanneer dit die regte tyd is om ons dorings te verwyder. Wat ek wel weet is dat dorings ons dryf om weer voor ons God te kniel sodat ons sy krag en teenwoordigheid kan beleef. Dit stel ons in staat om sy stem weer te hoor. Wanneer ons dus aanhou om naby aan Hom te bly, sal ons beleef hoe ons dorings wat ons aanvanklik met trane van frustrasie gelaat het, verander in monumente waarop ons terugkyk met ewige herinneringe saam met God omdat ons besef dat Hy deurentyd by ons was. 

Ons tyd op aarde is kort. Dit is ’n geleentheid om God beter te leer ken en meer soos Jesus te word. Kom ons leef dus met die wete dat die krag van Christus ons beskutting is en kom ons prys God - of Hy die doring verwyder of nie. As ons dit kan doen word ons waarlik vry. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U veel nader aan my is as wat ek dink of soms voel. Help my om my oë op U te hou te midde van dorings wat soms seermaak met die wete dat U niks oor my pad sal bring wat ek nie kan hanteer nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 17: Vreesloos Vorentoe met vryheid - 24 Junie 2015 Prev Next article: Dag 15: Vreesloos vorentoe met positiewe gedagtes - 22 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.