Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 18: Vreesloos vorentoe deur die verlede in die gesig te kyk - 25 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

Soms leer ’n mens waardevolle lesse in die kombuis – selfs al is jy, soos ek, nie ’n groot kok nie. ’n Tydjie gelede koop ek ’n gemarineerde, ont­beende hoender. Dit lyk sappig in die pakkie en volgens die aanwysings agterop (uiters belangrik vir my) klink dit asof ’n mens dit vinnig sonder moeite as ’n smaaklike ete vir jou geliefdes kan voorsit.

In die kombuis volg ek die aanwysings noukeurig. Alles verloop volgens plan – totdat ek tien minute nadat ek die hoender in die oond gesit het, weer in die kombuis instap en besef dat iets brand! Ek ruk die oonddeur oop en moet koes vir die rook wat uit die oond borrel. Het ek die aanwysings verkeerd gevolg? Is die hoender besig om te verbrand? Of is die oond op die punt om te ontplof?

Nadat ek alles afgeskakel het en al die deure en vensters na buite oopgemaak het, stap ek versigtig terug na die oond. Hier ontdek ek die oorsaak vir die rook: Ons het twee dae vantevore ’n ribbetjie in die oond gebraai. Die marinade het onder in die oondbak gedrup. Ek het dit skoongemaak, maar nagelaat om ook onder en rondom dié bak skoon te maak. Ek was nie lus vir die ekstra moeite nie. Die hitte van die oond het die kolle aangebrande marinade laat rook!

Nadat ek die hele oond van vooraf skoongemaak het en die hoender weer op die rakkie geplaas het, het dit die keer sonder probleme vinnig gaar geword.

Dié gebeurtenis het my laat dink aan die situasie wanneer ons ons sondes voor God bely en Hom vra om ons te vergewe en “skoon te was”. Indien ons egter nie vrymoedigheid het of te skaam voel om sekere situasies uit die verlede met Hom te bespreek, word dit soos die kolle aangebrande marinade in die oond. Ons dink aanvanklik dat ons dit vir die mense rondom ons kan wegsteek. Die probleem tree egter in wanneer die druk in ons lewens toeneem, soos die oond wat verhit word en die rook skielik sigbaar word vir almal om te sien.

In Hooglied 2:15 lees ons dat dit juis die klein dingetjies in ons lewens is wat soms die grootste skade kan aanrig indien ons nalaat om aandag daaraan te gee: “Vang vir ons die jakkalse, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, ons wingerde wat al bot.” En in 1 Johannes 1:5–10 lees ons: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.”

Wat hou jy in die donker in jou lewe? Dalk is dit iets wat lank gelede gebeur het, maar jou steeds affekteer. Onthou, solank ons situasies in die donker hou, kan die vyand ons daarop aanval deur ons konstant daaraan te herinner. Dit laat ons skuldig voel, laat leef ons in vrees dat ander daarvan sal uitvind en dit beroof ons van ons lewensvreugde. Dit is eers wanneer ons hierdie sake eerlik met God bespreek dat ons waarlik genesing en vryheid ontvang.

Moet dus nie wag dat die kolle aangebrande marinade begin rook nie. Kom ons vat dit vandag na God toe met die wete dat Hy ons sonde so ver soos die ooste van die weste kan verwyder en ons spierwit soos sneeu kan was. Jy sal verbaas wees oor hoeveel beter jy voel as jy saam met Hom in sy lig staan, met geen duisternis in jou lewe oor nie! Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek altyd met vrymoedigheid na U troon toe mag kom omdat u Seun namens my aan die kruis gesterf het sodat ek van my sondes gereinig kan word. Versterk my wanneer ek swak is, sodat ek waarlik in u lig kan leef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.

Previous article: Dag 19: Vreesloos vorentoe met God se beskerming - 26 Junie 2015 Prev Next article: Dag 17: Vreesloos Vorentoe met vryheid - 24 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.