Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Dag 17: Vreesloos Vorentoe met vryheid - 24 Junie 2015

Deur Benescke Janse van Rensburg

As joernalis het ek oor die jare al verskeie kere onderhoude met mense gedoen en, interessant genoeg, ’n hele paar keer dieselfde frase gehoor: “Ek het grootgeword met ’n alkoholverslaafde pa. Ek het die gewoonte verafsku en my voorgeneem om nooit soos my pa te word nie. Toe ek my oë uitvee, was ek self ’n alkoholis.” Of: “Ek het dit gehaat as my ma oor alles en almal skinder en alewig in ons lewens inmeng. Vandag wonder ek of my kinders nie by tye dieselfde oor my voel nie.” Of: “Elke greintjie in my het my oupa se string buite-egtelike verhoudings verwerp. En hier bevind ek my skielik in ’n liefdesdriehoek.”

Watter area in jou lewe is soos ’n reus wat uitstaan en wat jy vrees ’n werklikheid sal word omdat jy dit haat en verafsku? Is jy bang jy staan bekend as iemand wat konstant finansieel sukkel? Iemand wat nie ’n werk kan behou of ’n huwelik kan laat slaag nie? Is jy bang dat jy in ’n verslawing of verwoestende patroon sal verval? Of dat jy, soos jou ouers, afwesig in jou kind se lewe of andersins te krities sal wees, en hom of haar met kentekens sal laat loop wat jou jare geneem het om te verwerk?

Die vrees dat ons soos ’n voorganger in ons lewe sal uitdraai, kan maklik ’n obsessie word. Wanneer ons ons vrese konstant hardop uitspreek, maak ons onwetend vir die vyand ’n deur oop om ons juis op daardie gebied aan te val. Dit is dus belangrik om self ons vrese te herken en dit met God te bespreek. Hy beloof immers om aan ons die krag te gee om ’n streep in die sand te trek sodat ons ’n nuwe toekoms vreesloos saam met Hom kan betree.

In Deuteronomium 30:19 praat God met die Israeliete voordat hulle die beloofde land betree en Hy stel hierdie keuse aan hulle: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.”

Het jy dalk in jou lewe verkeerd gekies en dra jy nou die gevolge deurdat jy reeds die tekens van verwoesting in jou eie lewe ervaar? Onthou, by God is daar tweede kanse. In Johannes 8 bring mense die vrou wat owerspel gepleeg het voor Jesus. Sy moes gestenig word. Je­sus vra egter dat die persoon sonder sonde die eerste klip gooi. Almal het weggestap en toe Hy en die vrou alleen was, het Hy vir haar gesê: “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie” (Johannes 8:11).

As jy vandag waarlik berou het oor jou verlede of as jy ’n gebied van vrees in jou lewe herken, bespreek dit gerus met God. Hy sal jou versterk met genade en krag vir elke seisoen in jou lewe. Ons moet net kies om vandag reg te kies sodat God die res kan doen.

Vader God, baie dankie dat ek my vrese met U kan bespreek omdat U my daarvan kan vrymaak. Ek lê vandag (noem jou spesifieke vrees) voor U neer. Lei my asseblief dat dit nie vir my ’n obsessie word nie, maar dat ek eerder my geloof en vertroue in U stel. Genees my van my vrees, Here. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Vir terugvoer of vrae rondom die tema, stuur gerus ’n e-pos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Deel gerus ook jou getuienis van wat God in jou lewe gedoen het hier.
Previous article: Dag 18: Vreesloos vorentoe deur die verlede in die gesig te kyk - 25 Junie 2015 Prev Next article: Dag 16: Vreesloos vorentoe ten spyte van dorings - 23 Junie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.