Vers-n-dag - 1 Julie 2015
Waarom ek van God hou
Danny Fourie
Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 1 Johannes 4:19
'n Mens lees dikwels in tydskrifte van hoe twee mense se liefdesverhaal geloop het. Waar sommige met die eerste ontmoeting besef dat hulle albei tot mekaar aangetrokke voel, is daar ook diegene waar die liefde eers net van die een kant kom. So kry jy dat die een persoon gereeld sms’e, WhatApps of kaartjies stuur, soos in die ou dae, en die ontvanger dit gelate aanvaar. By die een wat die inisiatief neem, is daar blykbaar die vaste voorneme om die ander se liefde te wen. Die een het reeds sy of haar hart verloor en is nie van plan om die ander een te laat gaan nie.
Dit gebeur dan dikwels dat aanhouer wen. Die ander een kom geleidelik onder die indruk van die liefde wat vir geruime tyd op hom of haar gerig is en die vonk spring oor. Dan is daar geen keer nie en die wedersydse liefde loop uit op 'n besondere verhouding.
Dikwels gaan dit ook so met ons verhouding met God. Waarskynlik ken jy God, danksy jou ouers of iemand naby aan jou, maar miskien het jy nog nie 'n hegte band met God nie. God is ook soos die voorbeeld van die verliefde hier bo. God rig Homself egter nie op een persoon nie, maar op ons almal.
Uit elke Skrifgedeelte laat God ons sien hoeveel Hy van ons hou. Van die eerste keer dat ek in die Bybel begin lees het, het ek bevestiging gekry: God hou inderdaad van my. Dit het my nuuskierig gemaak. Wie is Hy tog? Hoe diep gaan sy liefde vir my?
Bietjie vir bietjie kry 'n mens antwoorde op hierdie vrae. Dit maak dat ek ook kan sê dat ek van God hou. Elke dag is ek besig met die soektog na God. En wie God soek, sal ook – in Jesus se eie woorde – God vind.
God is deurentyd in jou lewe besig om sy liefde aan jou te verklaar. Ek hoop dat die vonk hierdie maand ook by jou sal oorspring – dalk vir die eerste keer, of vir 'n verrassende tweede of derde of tiende keer.
Gebed: Dankie Here dat U my eerste liefgehad het, van die begin van my lewe af liefgehad het. Verander my hart dat ek u liefde kan beantwoord. Amen.