Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 2 Julie 2015

Waarom ek van God hou

Danny Fourie

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur … Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 1 Johannes 4:10,19

Alhoewel ek van God hou, beteken dit helaas nie dat ek God geen verdriet aandoen en dat ek nou alle wysheid besit nie. Allermins. Die pad na volmaaktheid is 'n lang pad, maar ek kan tog saam met Johannes sê dat ek God liefhet, omdat Hy my eerste liefgehad het.

Johannes waarsku en onderstreep die feit dat dit nie ons is wat God liefgehad het nie. Hý het ons eerste liefgehad. Johannes benadruk dat die aard en oorsprong van liefde nie in ons reaksie teenoor God lê nie. Dit is nie waar liefde begin het nie; dit is nie hoofsaaklik wat liefde is nie. Liefde is en begin by God. En as ons enigiets voel of doen wat liefde genoem kan word, is dit omdat ons aan God verbind is.

God se natuur is liefde en wanneer ons weer gebore word en Hom in geloof aanneem, deel ons daardie natuur van God – kan ons ook liefhê. God het daardie liefde van Hom in die geskiedenis gedemonstreer deur sy Seun te stuur sodat ons die ewige lewe deur Hom kan hê.

Wat uniek is aan die Christelike geloof, is dat daar ook die innerlike impuls by ons is om ander en God lief te hê. God voorsien en bewerk die liefde wat ons nodig het. Daardie liefde waarmee God ons eerste liefgehad het, en wat Hy bewys het deur sy Seun te stuur, bruis ook in ons harte. Ons ervaar daardie liefde van God wat Hy in die geskiedenis gedemonstreer het as 'n innerlike werklikheid van God se Gees in ons lewe. Dit is nog 'n rede waarom ek van God hou.

Gebed:Dankie, Here, dat u liefde 'n werklikheid in my lewe kan wees, waarmee ek U en ander kan liefhê. Help my om dit uit te leef. Amen.

Previous article: Vers-n-dag - 3 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 1 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.