Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 6 Julie 2015

Waarom ek van God hou: Hy kies altyd vir my

Danny Fourie

Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 1 Johannes 4:19

Iemand vertel hoe die boek van Allen Carr, Stop smoking, hom gehelp het om op te hou rook. Die eks-roker vertel hoe bly hy is dat Carr die boek geskryf het. Nie alleen is hy bevry uit die gevangenis waarin die verslawing aan nikotien hom gehou het nie, maar in werklikheid het Carr sy lewe hier op aarde gered. Nadat hy opgehou het met rook, het hy Carr ontmoet en vandag staan daar 'n foto van hom en Carr op sy lessenaar waar hulle Carr se boek triomfantelik omhoog hou en hand skud – lewenslank vriende.

Carr het dus 'n belangrike rol in die eks-roker se lewe gespeel. Wat God vir ons gedoen het, is egter van groter waarde, sê hy, as wat Carr vir hom beteken. God het sy ewige lewe gered. Nie alleen deur 'n Boek agter te laat waarin Hy sy liefde verklaar nie, maar ook deurdat Hy Jesus Christus uit die hemel gestuur het, laat verneder het en as misdadiger laat kruisig het. Die liggaamlike pyn van Jesus was verskriklik, maar die geestelike pyn wat Hy sonder sy Vader aan die kruis moes deurstaan, was veel erger. Alles vir ons.

Naas Carr se foto op sy lessenaar, sê die eks-roker, is daar teen sy muur voor hom 'n veel groter skildery van Jesus aan die kruis. Dit wakker sy liefde vir God aan.

Jesus aan die kruis wys God se onbegryplike liefde vir ons – die oomblik waarop Hy bewys het dat Hy ons waarklik liefhet. Hy bly nie maar net by mooi praatjies en beloftes nie. Hy het sy woord gehou. Hy het ons verbreekte verhouding met Hom herstel, sy belofte nagekom.

Jesus aan die kruis herinner my elke dag daaraan. Hierdie liefde kan ek nie onbeantwoord laat nie.

Gebed: Dankie Here Jesus dat U vir my gekies het, u liefde vir my aan die kruis bewys het, u woord gehou het en my weer u lewenslange vriend gemaak het. Amen.

Previous article: Vers-n-dag - 7 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 3 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.