Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Vers-n-dag - 7 Julie 2015

Waarom hou nie almal van God nie?

Danny Fourie

“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.  Matteus 11:27

Maar hoe is dit dat die liefde van God so ’n indruk op my maak, terwyl ander juis niks van God wil weet nie? Die feit dat miljoene mense hulle rug op God draai, wil alleen maar sê dat dit nie so vanselfsprekend is om ’n keuse vir God te maak nie. Is dit so? Dit is ’n moeilike vraag waarop ek nie ’n antwoord het nie.

Ek dink wel dat ’n groot deel van die mense wat niks van God wil weet nie, Hom nie werklik ken nie. Hulle kan nie van God hou nie, want vir hulle is God nie liefde nie. Vir baie mense is God ’n streng man wat diegene wat nie na Hom luister nie, die verderf instuur. Vir hulle is God iemand saam met wie ’n mens nie kan lag nie. ’n God wat nie deel is van die genieting van die lewe nie. ’n God … So kan 'n mens die lys aanvul.

Wie is God vir jou? Elkeen van ons het vir onsself ’n beeld van God geskep. ’n God wat ons vervolgens wegwys, want Hy staan ons nie aan nie.

Wie is God werklik? Kyk alleen maar na wie Jesus was. Wie Jesus ontmoet het, het die Vader ontmoet. Hoe dikwels het Jesus mense siek gemaak, gedood, gehaat, verloën? Hoe dikwels het Hy net aan Homself gedink? Nooit! Jesus het mense genees, uit die dood opgewek, die waarheid gepraat en vir ons gekies. Jesus het nie aan die kruis ter wille van Homself gesterf nie. Hy is die dood in ter wille van my en jou. Dit is Jesus. Dit is God.

Sê nou nee vir so 'n God. Sê nou jy hou nie van so 'n God nie.

Gebed: Vader, laat ek met nuwe oë na Jesus kyk – en in Hom sien hoe lief U my het. U is 'n goeie en liefdevolle God. Amen.

Previous article: Vers-n-dag - 8 Julie 2015 Prev Next article: Vers-n-dag - 6 Julie 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.