Vers-n-dag - 28 Julie 2015
Ek hou van God omdat Hy die toutjies in sy hande het
Danny Fourie
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet … Romeine 8:28
God wil die beste vir my en vir jou. Wat wil ek nog meer hê? Die God wat hemel en aarde geskape het, wat in alles wat Hy doen, bewys dat Hy van ons hou, sê hier dat Hy die beste vir my in die oog het. Alles wat in my lewe gebeur, sal Hy tot my beswil gebruik. Alles. Dus ook die kere dat ek gehoor het dat ek nie die pos gekry het nie; nie die huis gekry het wat ek so graag wou hê nie; dat ons nie kinders sal hê nie; dat ons kind se huwelik op die rotse is.
Dit is nie maklik om hierdie teleurstellings te bowe te kom nie. En tog kan 'n mens glo dat die Here sy beloftes hou. Hy sal die teleurstelling ten goede gebruik.
Miskien ken jy die bekende voorbeeld van die borduurwerk. Wanneer 'n mens aan die onderkant van die borduurwerk kyk, kan jy jou kwalik voorstel wat aan die anderkant geborduur is. Eers wanneer jy die borduurwerk omdraai, ontdek jy wat gemaak is. So is die lewe ook. Dikwels verstaan ons nie waarom sommige dinge gebeur en waarom ander nie gebeur nie.
Neem die voorbeeld van die ou volk Israel wat 40 jaar in die woestyn rond geswerf het voordat hulle die beloofde land Kanaan in gegaan het. Deur die versengende hitte het hulle eindelose afstande deur die sand afgelê. Die enigste waaraan hulle kon vashou of na opsien was die wolk waarin die Here was en wat vir hulle die pad gewys het. Hulle het hulle seker elke dag afgevra wat goed daarin was. Al wat hulle geweet het, was dat God met hulle op pad na die beloofde land was.
En ons? Ons weet God het ons lief en sorg vir ons. Daarmee saam weet ons ook wat ons einddoel is: ons bestemming is om eendag by God te wees en reeds nou iets van sy heerlikheid vir mense te wys.
Gebed: Here, in baie van die dinge wat met ons gebeur, sien ons die borduurwerk nog van onder. Help ons om U te vertrou in alles wat oor ons pad kom. Amen