Vers-n-dag - 27 Julie 2015
Ek hou van God omdat Hy 'n plan met my het
Danny Fourie
Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet … Romeine 8:28
Ek glimlag altyd meewarig as ek 'n ma en haar kleuter(s) in die mall of winkel raakloop en daar 'n bittere ongelukkigheid by die klein mensies is. Jy kan sommer sien dit gaan oor 'n lekker of koeldrank of sjokolade of roomys of chippies of almal! Maar hoe senutergend hierdie nimmereindigende gesanik ook al is, ek bewonder altyd die mamma wat vasbyt en inkopies doen of sy met 'n doofheid geslaan is. Weliswaar kry die kermende veronregtes wel 'n lekkertjie of sappie voor hulle by die kassier kom, maar dis al.
Wat is die motivering van daardie mamma? Ek het die saak vir my uitgemaak dat daar vir haar iets belangrikers is as net om die gekerm stop te sit. Dit is nie moeilik om te verstaan wat haar motiveer nie: die gesondheid van haar kind. Want stel jou nou voor dat die mamma aan elke versoek moet toegee? Binnekort is hulle kort-kort by die tandarts en is die kleuter oorgewig.
Ons glo dit swaar, of aanvaar dit swaar, maar ook in ons verhouding met die Here tree ons dikwels soos die kleuters in die winkel op. Ons redeneer dat indien ons ons sin met baie dinge kon gekry het, sou ons lewe nou veel beter daaruit gesien het. As die Here toe vir my daardie pos gegee het waarvoor ek so baie gebid het, sou my omstandighede aansienlik beter gewees het. Dan sou ek nou by die kus of in die bosveld gebly het. Dan sou ek en daardie donkerkop op wie ek so verlief was, die ouers van my kinders gewees het.
Wanneer 'n mens terugkyk in die tyd, kan jy verskillende situasies opnoem waarin jy gedink het jy weet wat die beste vir jou was. Maar wanneer 'n mens dit weer eens analiseer, begryp jy waarom God dit nie op daardie oomblik vir jou gegee het nie. Daar was 'n doel daarmee. Hy het sy eie plan met jou gehad – wat Hy ten goede wou gebruik. En gelukkig kom God sy belofte na.
Gebed: Here, help my om te glo dat U 'n plan met my lewe het. En al stem ek soms nie met daardie plan saam nie, het U my beswil in die oog. Amen