Vers-n-dag - 31 Julie 2015
Ek hou van God want strome van lewende water vloei uit my binneste
Danny Fourie
Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Johannes 7:38
'n Sielkundige het haarself afgevra wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat daar strome van lewende water uit ons binneste sou vloei. Sy het nogal 'n verhelderende antwoord gegee. Volgens haar het Christus beloof dat Hy daarvoor sal sorg dat die diepste verlange van ons hart bevredig sou word.
Neem nou maar vir Paulus. Toe hy 'n sendeling word, het hy nie geweet van al die lyding en ontberings wat hy sou moes deurmaak nie. Maar Paulus het verder gekyk as die verskrikkings wat hy moes deurmaak. Sy antwoord daarop was dat die lyding wat hy moes deurmaak nie sou opweeg teen die heerlikheid wat God hom nog sou laat sien nie.
Die sielkundige noem die diepste verlange van die mens die wesenlike of primêre verlange. Dit beteken volgens haar dat elke mens daarna verlang om in 'n verhouding met Iemand te staan wat onoorwinlik sterk is en wat ons liefdevol aanvaar. Hierdie primêre verlange kan slegs op een manier bevredig word: Deur die verhouding wat alleen deur God aangebied kan word.
Sy gaan verder om ook die sekondêre verlangens van die mens te beskryf. Dit is die verlange na goeie vriende en ook die wens om jou lewe met iemand te deel.
Maar wat het die verduideliking oor verlangens met die feit te doen dat ons kan bly wees? Die sielkundige het bloot bevestig dat dit waarna ons die meeste verlang al reeds vir ons gegee is en nooit weer weggeneem sal word nie. Niks in die hele skepping kan ons van die liefde van God skei nie. Ons primêre verlange is reeds deur God vervul.
Die wens en verlange om 'n wonderlike liefdesverhouding met iemand te hê, die wens om daardie vaste kontrak by die kantoor te kry, is niks meer as sekondêre verlangens nie. Dit sou lekker wees as dit vervul word, maar, weer eens, dit is nie noodsaaklik nie. Ons het reeds waarna ons ten diepste verlang.
Gebed: Dankie Here vir die wonder daarvan om 'n verhouding met U te hê. Dankie dat U onoorwinlik sterk is en my aanvaar soos ek is. Amen