Verhoudinge - 3 Augutus 2015
Carina Francke
Goeie, gesonde verhoudinge lê aan die fondasie van God se skeppingsplan. Van geboorte tot dood leef ons in verhoudinge verstrengel. Vanuit 'n verhouding met Hom (wat Hy terloops geïnisieer het), is ons eerstens mens vir Hom, maar terselfdertyd ook mens vir ander.
Gesonde verhoudinge vra gehoorsaamheid om God, die enige Here lief te hê met elke greintjie van ons menswees en om mense, ons naaste, lief te hê soos wat ons onsself liefhet. Die een is nie minder belangrik as die ander nie, dit staan op gelyke vlak (Markus 12:29-31).
Hierin is Jesus ons voorbeeld: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so." (Johannes 5:19).En dan aan sy dissipels: "Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee" (Johannes 15:13). Hy het van hulle vriende gemaak, Hy noem hulle sy vriende, omdat: "Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het." (Johannes 15:15)
Almal met wie ons gereeld in kontak kom, is nie nie noodwendig ons vriende nie, maar mense-kontak noodsaak verhoudinge op verskillende vlakke. Samewerking met kollegas impliseer 'n werksverhouding (hopelik 'n goeie een); besighede floreer vanuit goeie verhoudinge tussen eienaars, kliënte en verskaffers; die kassier by die supermark is 'n momentele transaksionele verhouding. En dan is daar die familie ‑ nie noodwendig almal jou vriende nie, maar mense in jou lewe wat op 'n ander verhoudingsvlak behandel word.
Ongeag watter verhouding in ons lewens ter sprake is, elke belydende gelowige het die verantwoordelikheid om te doen wat die Skrif aanbeveel: "bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense" (Romeine 12:17,18).
Miskien vat Ted Haggard dit mooi saam in sy boek The Life Giving Church: "Enigiets wat God in ons lewens doen, is onbewysd totdat dit getoets word in verhoudinge." (vertaal)
Gebed: Hemelse Vader, dit is waarlik lewe om met U in verhouding te leef - dankie vir dié Godgegewe voorreg. My hartsgebed vra vandag dat U praat in my gees, dat die bevestiging van u oneindige liefde vir my, en U sagte, maar ferm in-lyn-trek van al my doen en late, altyd in my verhoudinge met mense uitdrukking sal vind. Amen.