Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Moderne gesin - 1 September 2015

Xanthe Hancox

Intussen het Adonia, seun van Dawid en sy vrou Gaggit, ewe hoogmoedig by homself gedink: ek gaan binnekort koning wees. … Natan sê toe vir Batseba, Salomo se moeder: “Het jy gehoor Adonia seun van Gaggit het koning geword, en koning Dawid weet daar niks van nie!  1 Konings 5,11

1 Konings is een van daardie Ou-Testamentiese boeke wat soos 'n geskiedenishandboek lees. Dit begin aan die einde van Dawid se bewind en vertel van die gruwelike gebeure wat daartoe gelei het dat Salomo hom opgevolg het. Ons lees van Salomo se bewind, die tydperk toe die tempel gebou is asook van die verdeling van die nasie in die koninkryke van Israel en Juda. Dit is 'n boek met baie hoofstukke (en soms 'n bietjie langdradig) en dit is menslik om te wonder watter betekenis die bestudering van konings wat 3 000 jaar gelede oor 'n klom Hebreërs geheers het, vir ons in die 21ste eeu het. As jy een van daardie mense is wat opgewonde raak oor oorloë en datums en antieke politieke en taktiese bewegings, dan is hierdie een vir jou, maar wat van die res van ons?

Alhoewel dit die verhaal is van 'n koningskap wat misluk het en verdien om geoordeel te word, is dit ook die storie van God se algehele toewyding aan sy kinders deur goddelike woorde van hoop, deur oordeel, deur sy oproep en deur sy waarskuwings.

En dit is ook die storie van mense wat met dieselfde soort sake moes deel as waarmee ons vandag te make het. Kyk byvoorbeeld na hoofstuk een; Dawid se gesin was enige tyd net so kompleks en problematies as baie moderne gesinne. Dawid was miskien 'n groot en magtige koning van God, maar hy het nie 'n baie goeie werk gedoen met die opvoeding van sy seuns nie. Hy was geneig om hulle te bederf en hulle het baie bevoorreg groot geword met die idee dat hulle op alles geregtig is. Die eindresultaat was dat, toe Dawid 'n ou man was wat nie meer veel kon doen nie, het sy seun Adonia saamgesweer om die troon vir homself toe te eien, selfs al sou dit beteken dat hy sy vader moes verraai en sy broer, Salomo, moes vermoor.  Gelukkig het Dawid na sy getroue vriend, Natan die profeet, geluister en sake reggestel.

Maak gerus tyd om die hele hoofstuk te lees. Dit is 'n gesinsdrama wat met enige 21ste-eeuse realiteitsprogram op TV kan meeding. Is dit nie gerusstellend om te weet dat selfs Dawid probleme gehad het om sy gesin te hanteer nie? Sommige geleerdes suggereer dat Dawid heel moontlik geweet het dat Adonia besig was om saam te sweer om koning te word, maar dat hy verkies het om soos 'n volstruis sy kop in die sand te steek en te hoop dat die probleem net sal verdwyn. Ons het miskien nie vandag ons eie gesinsprofeet om ons te lei in ons besluitneming nie, maar ons het iets baie beter, die Woord van Christus self.

Gebed: Here, U het verskillende gesinne geskep. Gee ons die moed om al die uitdagings in ons gesinne aan te spreek. Dankie vir die wysheid en raad van betroubare vriende en help ons om antwoorde in u Woord te soek. Amen

Previous article: God se belofte - 2 September 2015 Prev Next article: Die Here en ek - vreugde - 31 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.