Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Die Here en ek - vreugde - 31 Augustus 2015

Carina Francke

Op 'n vraag wat sy advies sal wees aan iemand wat depressief is en geen vreugde in sy lewe ervaar nie, was die sielkundige, dr. Karl Messinger se antwoord: "Sluit jou huis, loop oor die treinspoor, vind iemand wat in nood verkeer en doen iets om daardie persoon te help."

Jesus gee 'n soortgelyke radikale antwoord: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis dra en My volg, want elkeen wat sy lewe wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om my ontwil verloor, sal dit behou (Lukas 9:23,24).

Wat Jesus eintlik bedoel, is dat iemand wie se lewe om "self" draai,  noodwendig leeg loop, maar wanneer hy by die Een bly wat die Bron van vreugde is, sal hy sy lewe behou.

Dawid verduidelik in 'n gedig wat die vonk van vreugde in 'n mens se lewe aansteek - jou verlossing of redding: "Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is"(Psalm 51:14).Petrus eggo hierdie waarheid: "Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nie nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met 'n onuitspreeklike en heerlike blydskap (1 Petrus 1:8).Soos Jeremia vind die gelowige egter ook sy vreugde in die woorde van die Here: "Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my 'n vreugde en vrolikheid vir my hart" (Jeremia.15:16).

Waarom sien ons dan so baie ongelukkige gelowiges rondom ons? Die gebeure agter bogenoemde teksverse konfronteer ons met moontlik oorsake wat vreugde versmoor. Mense sondig moedswillig, soos Dawid met Batseba, en probeer dit dan wegsteek of ontken. Erkenning, opregte berou en die vra van vergifnis, herstel die oortreder se uitbundige vreugde (Psalm 51).

Mense glo nie werklik dat God is wie Hy sê hy is nie (Jeremia 15:6); hulle kan nie van harte sê nie: "U is my Here; vir my is daar niks goed behalwe U nie" (Ps.16:2).

Sy woord het 'n bysaak geword in hul lewens - 'n onnodige vyfde wiel aan die wa. Miskien het dit nodig geword om weer die Woord gulsig te eet om daardie vreugde en vrolikheid aan te wakker.

En wie weet, dalk loop ons mekaar eendag op die treinspore raak, soekend na mense wat nodig het dat die vonk van sy vreugde ook in hulle lewens aangesteek word.

Gebed: Vader, dankie vir oorloop-vreugde wat moontlik gemaak is deur my verlossing. Dankie dat 'n deursigtige verhouding met U en u woord, dit in stand hou. Amen

Previous article: Moderne gesin - 1 September 2015 Prev Next article: Die Here en ek - stiptelike gehoorsaamheid (2) - 28 Augustus 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.