Wysheid, verstand en insig - 4 September 2015
Xanthe Hancox
God het aan Salomo baie groot wysheid en verstand gegee en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is. 1 Konings 4:29
Toe ek vroeër hierdie week weer hierdie gedeelte lees, was ek verbaas om te ontdek dat God drie dinge aan Salomo gegee het; ek het regtig net die een oor wysheid onthou. Terwyl ek so oor die verskil tussen wysheid, verstand en insig nagedink het, het die storie in 1 Konings 3 oor die twee prostitute wat by Salomo aangekom het omdat hulle oor hulle twee seuntjies gestry het, by my opgekom. Een van die seuntjies is dood en hulle het gestry oor aan wie die een wat nog leef, behoort. Salomo is gevra om te besluit oor wie die regte moeder is.
Ek het nog altyd van hierdie storie gehou want Salomo se oplossing is 'n soort raaisel. Aangesien die vrouens nie kon besluit nie, gee hy opdrag dat die seuntjie in twee gesny moet word en elke vrou moet 'n halwe ontvang. Dit klink miskien belaglik, maar Salomo weet wat hy doen. Hy weet die regte ma sal haar kind se lewe red, eerder as om toe te kyk hoe hy doodgemaak word, selfs al sou dit beteken dat sy hom aan iemand anders moet afstaan. Toe die vrou wat nie kon toesien dat haar kind doodgemaak word nie begin smeek, het Salomo geweet sy was die seuntjie se regte ma, en het hy die kind aan haar gegee.
Hierdie storie sê vir my iets van Salomo se insig, "insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is." Hy kon 'n saak ver bo sy eie lewenswysheid beoordeel. Nie net het hy insig in die situasie gehad en die nodige wysheid om dit te hanteer nie, maar hy het ook, in die geval, die hart van 'n moeder verstaan al was hy nie self een nie.
In Spreuke 9:10 wat deur Salomo geskryf is, lees ons: "Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig." Alhoewel ons aardse ondervindings aan ons 'n mate van wysheid kan gee, kom ware wysheid, verstand en insig uit 'n verhouding met God. Paulus neem dit 'n stap verder wanneer hy in 1 Korintiërs 1:30 sê: "Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing." Die wysste ding wat jy vandag kan doen, is om nog nader aan Jesus te kom want daar sal jy geregtigheid, heiligheid en verlossing vind.
Gebed: Here, partykeer jaag ek wêreldse insigte en wysheid na, terwyl ek U moet soek. Help my om meer tyd met u Woord te spandeer sodat my insig in dit wat werklik saak maak, kan verdiep. Amen