'n Les uit projekbestuur - 7 September 2015
Xanthe Hancox
Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowe het.1 Konings 5:12a
1 Konings 5 is 'n hoofstuk wat so 'n bietjie soos 'n antieke projekplan lees. Jy sal nou nie 'n Gantt-kaart of grafiek hier vind nie, maar daar is 'n gedetailleerde weergawe van Salomo se planne om die nodige arbeid en konstruksiemateriaal te bekom om die tempel te kan bou.
En dan in die middel van dit alles is daar 'n vers wat lui: "Die Here het aan Salomo wysheid gegee soos Hy belowehet." Wat leer die Bybel ons hier oor Salomo se wysheid rakende die voorbereidings om die tempel te bou? Eerstens, Salomo het oor die wysheid beskik om te besef dat sy projek in die vrede van die Here (vers 4-5) gegrond was. Hy het nie krediet geneem vir die vrede nie, maar het erken dat die sukses van die bou van die tempel van die vrede van God sou afhang.
Tweedens, het Salomo se idee om die tempel te bou saamgehang met die belofte wat die Here aan Dawid gemaak het. Vroeër het God Dawid beloof dat sy seun op die troon sal sit en "Hy sal vir my Naam 'n huis bou … " (2 Samuel 7:13).
Laastens, die doel van Salomo se projek was op God gerig. Kyk 'n bietjie wie span hy in met die konstruksie van die Here se huis: die koning van Tirus (v 10), die houtkappers van Sidon (vers 6), en die ambagsmanne van Gebal (vers 18). Dit beteken die heidene het 'n volledige aandeel gehad in die bou van die Huis van die Here, wat heenwys na die woorde van Jesus: ‘My huis sal 'n huis van gebed vir al die nasies wees’ (Markus 11:17).
Salomo se voorbereidings om die Here se huis te bou, het gedraai om God se vrede, sy belofte en sy doel. Sonder dit was sy projek gedoem. Hierin is 'n les vir ons almal. Salomo beklemtoon dit in Psalm 127:1 "As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs." Spandeer vandag tyd om vir jou kerk en ander bedieninge wat jy ondersteun, te bid. Bid dat alles wat hulle doen, gegrond sal wees in die vrede en beloftes van die Here en dat hulle gelei sal word deur God se doel vir hulle.
Gebed: Vader, dit is so maklik om vasgevang te word in die projekte en planne wat ons eie wense reflekteer en dan teleurgesteld te wees wanneer dit nie slaag nie. Ek bid dat U my sal help om u wil te soek vir alles wat ek doen. Amen