Wie is God? (18) - 26 Oktober 2015
Die Een wat lewe gee
Louise Gevers
“Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.” Esegiël 36:26
Hoe goed ken jy jouself? Kan jy jouself in die bogenoemde vers herken? Wanneer laas het jy goed en deeglik na jou hart en gees gekyk?
Ek hoor jou sê: "Is ons nie veronderstel om te kyk na wie God is nie?" Wel, die feit dat God in jou belangstel en na jou uitreik, vertel jou reeds baie van God en ook hoe belangrik jy vir Hom is! Hy sien jou in jou gevalle toestand, maar draai nie sy rug op jou en loop van jou af weg nie. Inteendeel, Hy doen alles binne die perke wat Hy gestel het – wat beteken dat Hy jou vrye wil respekteer - om na jou uit te reik, met jou te praat en jou met liefde, vreugde en vrede te seën wat jou gees sal laat lewe, iets wat net Hy kan doen.
Daar is baie verskillende uitdrukkings wat die woord "klip" bevat. In die lysie hieronder het "klip" 'n soort van 'n negatiewe betekenis: klippe gebreek, klippe gekou, so hard soos klip, 'n klipsteen, 'n regte klipkop, klipharde lewe en dan verwys ons teksvers na 'n kliphart. Het enige van hierdie uitdrukkings op jou betrekking?
Ek dink nie een van ons wil graag hê dat dit na ons moet verwys nie aangesien klip hier "hard" in 'n negatiewe konteks beteken, iets wat die lewe bederf en geen beter toestand word geïmpliseer nie. 'n Mens kry geen idee van buigbaarheid of positiwiteit nie.
Wanneer God praat van die verwydering van ons hart van klip, besef 'n mens dat Hy raaksien hoe ons harde, koue, ongenaakbare, ondeurdringbare harte sy plan van 'n oorvloedige lewe vir sy kinders, bederf. Hy sien dat ons gedreineer en gedryf is, dat ons sukkel om sin te maak van alles, sukkel om te oorleef, sukkel om te sien waar ons inpas en in die proses ons harte verhard. Kan jy hiermee identifiseer?
Hy wil ons bevry sodat ons voluit kan leef, lewens in "Technicolor" kan lei. Al is klippe wat ons soms vind, ook hoe mooi, verdof hulle in vergelyking met dit wat Hy ons bied!
Gebed: Dierbare Vader, dankie dat U my haglike posisie raaksien. Gee my asseblief 'n nuwe hart en 'n nuwe gees. In Jesus se Naam. Amen.