Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (17) - 23 Oktober 2015

Regverdige Onderwyser

Louise Gevers

“Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar.” Psalm 25:8-10

Hierdie pragtige verse bevestig eers God se integriteit en vertel ons dan dat Hy 'n verwantskap met ons het en dat Hy persoonlik ons leer hoe om regverdig volgens sy wette te leef. Is dit nie wonderlik nie? Om deur God self onderrig te word, Hy wat alles van die begin af geskep het en ons na vreugde en vrede lei, is geen onbenullige voorreg nie!

Onderwys en opleiding vorm 'n enorme deel van ons lewe. Die onderwysproses begin van die oomblik van geboorte tussen ouers en kind, betrek later die wyer familie en mettertyd, ook die samelewing. Dit is noodsaaklik om gedurende die vroegste jare binne die gesin die kind te leer wat reg is en hom voor te berei om die wêreld te betree. Baie van ons grootword jare het met die skool te make waar ons verskillende invloede ervaar. Die grondslag wat tuis gelê word, is dus uiters belangrik.

Ons volg God se voorbeeld want sy manier is liefdevol en wys en Hy is die Kenner. God kies om ons te leer, so dit is duidelik dat onderwys belangrik is. Mense stroom dikwels na 'n plek om na 'n spreker wat 'n kundige op sy gebied is, te luister. Óf dit nou 'n skrywer, ‘n kunstenaar, ‘n wynmaker, ‘n digter, ‘n sjef óf wat ook al is, mense waardeer dit om eerstehands van die een wat die ervaring het en 'n meesterstuk geskep het, te hoor. Maar wie vra ooit wie hulle geïnspireer het? Wat hulle ookal bereik het, is altyd van die oorspronklike Meesterbrein geleer!

Reeds vir eeue roep God mense om sy kundigheid oor dit wat saak maak in die lewe, met ander te deel. Hy wil ons nie leer hoe om 'n boom te skep nie, maar Hy het ons die intelligensie gegee om te leer hoe om dit te laat groei. Wat Hy ons leer, is noodsaaklik want dit raak ons lewenskwaliteit: ons as sondaars, moet sy pad leer en in mense van die lig verander word. Hy maak dit alles moontlik vir ons, maar hoeveel ons sal baat, hang af van hoeveel ons wil leer. Onderwysers berei baie inhoud vir 'n les voor wat dikwels vermors word want leerders wil nie leer nie.

God wag geduldig vir ons om sy pad te leer ken. Waarom is God "goed en regverdig"? Want Hy gee om dat ons sy pad nie ken nie en as sondaars is ons verlore.

Gebed: Liefdevolle Here, help ons om nederig te wees, sodat ons van U kan leer en u weë kan volg. Amen.

Previous article: Wie is God? (18) - 26 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (16) - 22 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.