Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (20) - 28 Oktober 2015

Die Lig

Louise Gevers

“Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie.Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde.”  1 Johannes 1:5-7

As ons ‘n voorwerp wil vertoon, sal ons dit op ‘n plek sit waar dit die beste lig kry of selfs kunsmatig die lig so stel om die voorwerp te beklemtoon sodat almal dit kan sien en bewonder. By vertonings of konserte word daar ‘n soeklig gebruik sodat die ster sigbaar kan wees. Hoeveel te meer dan sal God, die Almagtige Here van die skepping, nie deur helder volmaakte lig omring wees nie?

Die bogenoemde verse verduidelik 'n verdere aspek van ons vraag: "Wie is God?" Hy is lig; in Hom is daar absoluut geen duisternis nie en in 1 Timoteus 6:16 lees ons: " ... Hy woon in ontoeganklike lig."  Indien ons moes raai, sou dit seker ons antwoord gewees het, want dit is wat ons verwag. Dit maak sin dat die Goddelike Majesteit met prag en luister belig word en nie in die duisternis weggesteek word nie. Die Bybel maak dit ook hier duidelik dat lig en geregtigheid sinoniem is, en dat diegene wat nie aan Hom deel het nie, in die duisternis lewe.

Wanneer ons hieroor nadink, is dit duidelik dat byna elke konnotasie met lig iets positiefs bevat. Eerstens sien ons goed in die lig, maar ons struikel in die donker; mense is nie bang vir die lig nie, maar baie volwassenes en kinders is bang vir die donker; lig is baie belangrik vir lewe, sonder dit het ons nie warmte of gunstige toestande vir groei nie; dit help selfs om ons Vitamien C- en D-vlakke 'n hupstoot te gee wat ons gesonder maak, en in sonskyn is mense minder geneig tot depressie in teenstelling met diegene wat lang, donker winters beleef. In ons lewens benodig ons dus regtig lig. Benodig ons dan nie in ons geestelike lewe ook die lig nie?

Toe God die hemel en die aarde geskep het en daar net duisternis oor die vormlose, niks was, het Hy die lig eerste geskep. "Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei." (Genesis 1:3-4). So leer ons: God het die lig geskep en Hy is lig. Hy sal nooit in die duisternis wees nie, nie fisies of geestelik nie. Maar wat van ons?

In die Nuwe Testament, wanneer Paulus vir die kerk in Korinte sê om nie saam met ongelowiges in dieselfde juk te trek nie, vra hy ook die vraag: "Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?"       (2 Korintiërs 6:14). Ons moet onsself vra: "Waar is ek in die groot prentjie? Is ek in die lig of in die duisternis?"

Die enigste manier waarop ons in die lig kan bly, is om ons elke dag in God se Woord verdiep. "U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad." (Psalm 119:105)

Gebed: Liewe Vader, help my om in die skoonheid van u lig te loop en mag U elke dag meer en meer deur my lewe skyn. In Jesus se Naam.  Amen.

Previous article: Wie is God? (21) - 29 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (19) - 27 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.