Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Wie is God? (21) - 29 Oktober 2015

Liefde

Louise Gevers

“Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”  1 Johannes 4:7-8

Liefde is werklik een van die mees belangrikste fokuspunte in die wêreld en dit maak nie saak vanwaar jy kom nie, jy is bewus van liefde.  Vir die mens is om verlief te raak, jou lewensmaat te vind en om vir altyd daardie persoon lief te hê, een van die belangrikste dinge in die lewe. In wese is dit iets wat ons geluk bepaal en die manier waarop ons lewe beïnvloed. Ons word egter geleer om ander mense ook lief te hê, en nie net ons eggenoot en families nie. Dit behoort vir ons geen verrassing te wees nie want liefde en toewyding kom van God.Liefde is in Hom gewortel. Die woord "liefde" kom 314 keer in die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel voor, wat baie insiggewend is en waarvan ons kan leer.

'God is liefde’ is moontlik die maklikste verklaring oor God om te glo, omdat ons oral om ons bewyse daarvan kan sien. Alles in hierdie wêreld is deur Hom geskep om seëninge, en sonder uitsondering, lewe en vervulling aan elke persoon te gee. Niks is maar net per ongeluk nie! Liefde is werklik die diepste vlak van verhoudings en is opofferend in aksie. Dit beteken om ander op dieselfde vlak as jouself te plaas en om hulle behoeftes eerste te stel. Op dieselfde manier wat 'n man en vrou versigtig 'n tuiste vir hulself en hul gesin skep, niks binne hulle vermoë agterweë laat om dit mooi en gerieflik vir mekaar te maak nie, geniet God dit om 'n wêreld van skoonheid te skep wat deur almal wat dit bewoon, geniet kan word.  Hy keer niemand om dit wat Hy gemaak het te geniet nie, en Hy ontsê niemand hulle basiese behoeftes nie. Hy verwag van ons om die wêreld wat Hy gemaak het te geniet, om dit met mekaar te deel en in sy liefde te leef.

Jesus sê in Mattheus 5:43-45: "Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen." Wat 'n wonderlike karaktertrek van ons genadige, liefdevolle God, Hy gee vrylik aan almal. Hy wil ook dat ons sy voorbeeld volg en almal liefhê; nie net vir hulle wat ook vir ons lief is nie.

In Johannes 15:13 sê Jesus, " Niemand het groter liefde as dit nie: dat Hy sy lewe vir sy vriende aflê. " God stel vir ons hierdie voorbeeld deurdat sy Seun sy lewe vir die wêreld afgelê het om te bewys hoe groot sy liefde vir hierdie wêreld en vir ons is.

Gebed: Liewe Vader, dankie dat U liefde is. Help my asseblief om so in u liefde te leef dat dit vir my moontlik sal wees om ander werklik lief te hê. In Jesus se Naam.  Amen.

Previous article: Wie is God? (22) - 30 Oktober 2015 Prev Next article: Wie is God? (20) - 28 Oktober 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.