Jesus leer deur gelykenisse - 2 November 2015
Neville Turley
“Sonder 'n gelykenis het Hy nie met hulle gepraat nie, maar wanneer Hy met sy dissipels alleen was, het Hy vir hulle alles uitgelê." Markus 4:34
In die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) word 'n gelykenis gedefinieer as 'n simboliese verhaal uit die alledaagse lewe om 'n godsdienstige waarheid of morele les tuis te bring. Gelykenisse word vir hierdie doel in beide die Ou en die Nuwe Testament aangewend.
Gelykenisse was kenmerkend van ons Here Jesus Christus se bediening. Die dissipels het Jesus uitgevra oor die gelykenisse en hoekom Hy die mense op dié manier leer. Jesus het aan hulle verduidelik dat aan hulle is insig in die geheim van die koninkryk van God gegee, maar dit is nie aan almal gegee nie. Jesus het toe bygevoeg dat iemand 'n gelykenis oor en oor kan hoor, maar dit nie sal verstaan as hulle hulle nie bekeer en vergewe word nie. (Markus 4:10-12)
Netsoos God ons ons sondes vergewe, moet ons hulle wat teen ons sondig ook vergewe. "Eendag," vertel Jesus, "was daar 'n koning wat uitgevind het dat een van sy amptenare hom miljoene skuld. Die koning was woedend en het beveel dat hy en sy vrou en alles wat hulle besit verkoop moet word. Die amptenaar het voor hom neergeval en hom gesoebat. Die koning het hom jammer gekry en sy skuld afgeskryf." (Matteus 18:21-35)
Toe die man buite kom, ontmoet hy 'n medeamptenaar wat hom net 'n klein bedraggie geskuld het. Hy het die man gegryp en gewurg en geëis dat hy betaal wat hy skuld. Die een wat hom geld geskuld het, het hom gesmeek om uitstel, maar hy wou niks weet nie en het hom in die tronk laat gooi.
Toe die koning daarvan hoor, was hy woedend: "Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?"
Om iemand wat ons diep seergemaak het, te vergeef is een van die moeilikste dinge om te doen. Maar as ons na God se genade verlang, moet ons ook bereid wees om aan ander genade te betoon. Die Here maak dit baie duidelik wanneer Hy ons leer om te bid – "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; …"
Is daar iemand wat teen jou oortree het? Mag die Here aan jou die genade gee om te vergewe.
Gebed: Hemelse Vader, mag die Heilige Gees ons in staat steel om ons lewens op die leringe van Jesus te bou en so u Naam te eer. Amen