Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Begin 'n nuwe lewe - 3 November 2015

Neville Turley

Toe sê Dawid vir Natan: “Ek het gesondig teen die Here.” En Natan sê vir hom: “Die Here het jou sonde vergewe: jy sal nie nou sterwe nie. 2 Samuel 12:13

Natan, die profeet wat met koning Dawid praat, het 'n ernstige probleem. God het hom gelei om die koning te konfronteer en hom tot sy sinne te bring rakende Urija die Hettiet.

Dawid het owerspel gepleeg met Urija se vrou, Batseba. Toe hy nie 'n manier kon vind om dit wat hulle gedoen het langer weg te steek nie, het hy gereël dat Urija doodgemaak word en toe met Batseba getrou.

Dawid was 'n totale monarg, 'n kryger met 'n onvoorspelbare temperament. Hy het die mag van lewe en dood oor sy onderdane, insluitende Natan, gehad. Natan, as 'n profeet van God het egter geen ander keuse gehad as om dapper die koning van aangesig tot aangesig te ontmoet en hom tereg te wys nie. Dit was nodig vir Dawid om sy sonde voor die Here te bely en sy lewe as't ware op 'n nuwe, skoon bladsy te begin.

Tydens sy oudiënsie met die koning vertel Natan hom die gelykenis van die ooilam. "Daar was twee mans," vertel hy, "die een was ryk en die ander arm. Die ryke het groot troppe kleinvee en beeste gehad. Behalwe een ou ooilammetjie het die arm man niks besit nie. Hy het haar aan die lewe gehou."

'n Reisiger het die ryk man besoek. Eerder as om een van sy eie kleinvee of beeste te slag, het hy die arm man se ooilam gevat en geslag.

Koning Dawid was woedend, "die man moet doodgemaak word," het hy uitgevaar. "Hy moet viervoudig vir die ooilam vergoed.” Toe sê Natan vir Dawid: "Jy is die man!” Die Here het Dawid ryklik geseën en kyk hoe het hy Urija behandel. Dawid het besef wat hy gedoen het en vir Natan gesê: “Ek het gesondig teen die Here.”

Ons is miskien nie skuldig aan dieselfde sondes as koning Dawid nie, maar ons moet besef dat ons sondaars is en die gevolge sal moet dra. Daar sal 'n oomblik kom wanneer die woorde van Natan "Jy is die man!” ook op ons betrekking het. Dan moet ons, soos Dawid, ons sondes voor God bely. (Psalm 51).

Gebed: Almagtige God, U verlang nie die dood van 'n sondaar nie, maar U wil dat ons nederig ons sondes bely. Vergewe ons asseblief ons sondes. Dit bid ons in Jesus Naam.  Amen.

Previous article: Selfsugtige ambisie en trots kan tot ondergang lei - 4 November 2015 Prev Next article: Jesus leer deur gelykenisse - 2 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.