Woorde wek voorbeelde trek - 6 November 2015
Neville Turley
Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so 'n geloof 'n mens red? Jakobus 2:14
Jesus was besig om die mense in die tempel te leer toe Hy deur die priesterhoofde en familiehoofde gekonfronteer word en sy gesag bevraagteken word. “Ek gaan julle een ding vra, en as julle My daarop antwoord, sal Ek vir julle sê met watter gesag Ek hierdie dinge doen," sê Jesus. "Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom: van God, of van mense af?”
Hulle het onder mekaar redeneer en toe erken dat hulle nie die antwoord weet nie.
Toe vertel Jesus vir hulle die gelykenis van die twee seuns. (Matteus 21:28-32). Daar was 'n man wat twee seuns gehad het; hy het hulle nodig gehad om in sy wingerd te werk. Die een seun het geweier, maar het toe later sy besluit verander en tog gegaan. Toe die pa die ander seun vra om te help, het hy beleefd geantwoord dat hy dit sal doen, maar hy het nie gegaan nie. Jesus vra toe: "Wie van die twee het gedoen wat hulle pa wou hê?” Hulle moes erken dat dit die eerste seun was.
Jesus het toe die betekenis van hierdie gelykenis vir die priester- en familiehoofde verduidelik. Johannes die Doper het gekom om julle die regte pad te wys. Maar julle wat met groot vertoon wys watter belangrike manne van God julle is, wou hom nie glo nie. En tog, die mense wat julle verag, die tollenaars en prostitute, het Johannes geglo en hulle sondes bely. Maar selfs toe julle dit sien, het julle steeds nie van mening verander en julle sondes bely nie. "Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in," sê Jesus.
Elkeen van ons wat deur God geroep word om in sy wingerd te werk, het 'n taak om te verrig. Miskien, soos die eerste seun, skop ons ook soms teen die idee, maar ons moet wag op die Vader se leiding en sy wil gehoorsaam wees.
Tans is ek en jy God se kinders in die wêreld, en daar is werk om te doen. Deur ons dade, openbaar ons die opregtheid van ons geloof.
Gebed: Hemelse Vader, gee dat alles wat ons doen van so 'n aard sal wees dat mense sal kan sien dat ons aan U behoort en u heilige Naam wil verheerlik. Amen