Daar is 'n skat wat gevind moet word - 9 November 2015
Neville Turley
Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land. Matteus 13:44
'n Mens dink gewoonlik dat 'n skat uit goud, diamante of kosbare juwele bestaan, maar 'n skat hoef nie noodwendig uit minerale te bestaan om waardevol te wees nie. Die Bybel sê 'n knap vrou is baie meer werd as edelstene (Spreuke 31:10). Jesus leer ons dat die koninkryk van die hemel die waardevolste skat is en dat dit binne ons bereik is.
David Livingstone, die groot sendeling en ontdekkingsreisiger, het reeds op die ouderdom van 20 jaar die waarde van die skatte in die koninkryk van die hemel ontdek. Hy skryf in sy dagboek: "I saw the duty and inestimable privilege immediately to accept salvation by Christ… It is my desire to show my attachment to the cause of Him who died for me by henceforth devoting my life to his service."
David Livingstone is 1813 in Skotland gebore. Sy gesin was arm. Reeds as 10-jarige het hy in die plaaslike katoenmeule begin werk. Sy daaglikse skof was 14 uur lank en daarna het hy vir twee ure skoolonderrig ontvang. Toe David die skat van die koninkryk van die hemel ontdek het, het sy hele lewe verander. Hy het verder studeer en as 'n mediese sendeling gekwalifiseer waarna hy Afrika toe vertrek het.
Ten spyte van swak gesondheid, het hy reis na reis onderneem om die vasteland te verken en met sy Bybel en sy medisynekis na die mense van Afrika uit te reik. Hy het tot met sy dood in 1873 hiermee volgehou.
Vandag lê sy liggaam begrawe tussen konings en helde in die Westminster Abdy in Londen. Sy hart is egter in Afrika begrawe, die vasteland waar hy die goeie nuus van die evangelie tot eer van God uitgedra het.
Gebed: Almagtige God dankie vir die oneindige rykdom wat ons in Jesus Christus het. Help ons deur die Heilige Gees om die skatte van die koninkryk van die Hemel met ander om ons te deel. Amen