Vers-n-dag Vers-n-dag
Vers-n-dag Vers-n-dag
  • tuisblad
  • dagstukkies
  • verse-a-day
  • intekening
    • english - verse-a-day

Doen dit net - 30 November 2015

Neville Turley

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Jakobus 1:22

In ons vers vir vandag herhaal Jakobus die woorde van Jesus: “Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? (Lukas 6:46)

Jesus maak dit baie duidelik dat dit geen sin maak om slegs lippediens te bewys nie. Ons moet bereid wees om dit wat Hy ons leer toe te pas. Hy illustreer dit met 'n gelykenis oor twee bouers wat 'n huis bou.

Een was 'n verstandige bouer en die ander een was 'n dwaas. In Lukas se weergawe van die gelykenis, het die een bouer die grond diep uitgegrawe om die fondament op die rots te lê. (Lukas 6:48) Die ander bouer het die makliker manier gekies en sy huis op die sand gebou.

Toe het die storms gekom en die twee huise is getref. "Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai …" (Matteus 7:25) Die huis wat op die rots gebou was het bly staan, maar die storm het een wat op sand gebou is heeltemal verwoes.

Jesus as 'n timmerman het heel waarskynlik 'n goeie kennis van die boubedryf gehad. Hy het geweet dat dit uiters belangrik is vir 'n gebou om 'n stewige fondament te hê. Hy het hierdie kennis gebruik om vir ons 'n geestelike waarheid te openbaar.

Gehoorsaamheid aan dit wat Hy ons leer is die enigste vaste fondament waarop ons ons lewens moet bou. Hy, en Hy alleen, is die bron van ewige saligheid vir almal wat aan Hom gehoorsaam is. (Hebreërs 5:9)

Elkeen wat hoor wat Jesus leer, is of 'n verstandige bouer of 'n dwaas. Diegene wat nie aan Hom gehoorsaam is nie bou hulle lewens op sand en staar 'n droewige toekoms in die gesig. Jesus, die Rots van ons saligheid is die enigste fondament waarop ons ons lewens moet bou. Diegene wat dit doen sal die storms kan weerstaan en die ewige lewe is hulle bestemming.

Gebed: Almagtige God, vervul ons met u Heilige Gees sodat ons U kan loof en prys in die Naam van Jesus Christus ons Here.  Amen

Previous article: As die hoop beskaam … - 1 Desember 2015 Prev Next article: Ons is diensknegte - 27 November 2015 Next

Copyright © 2024 Vers-n-dag. All Rights Reserved.