Ons is diensknegte - 27 November 2015
Neville Turley
"My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes." Jesaja 55:8-9
Eva is in die Tuin van Eden deur die duiwel verlei. Hy het Eva vertel dat indien sy en Adam van die verbode vrug eet, hulle soos God sal wees en nie sal sterf nie. Die mensdom kan nooit gelyk aan God wees nie.
Jesus definieer wat ons verhouding met God rakende ons werk en pligte moet wees.
“Sê nou een van julle het 'n slaaf wat ploeg of vee oppas. Sal hy vir die slaaf sê as hy van die veld af inkom: ‘Kom eet eers gou’? Natuurlik nie! Maar hy sal vir hom sê: ‘Maak vir my iets klaar vir aandete. Sit dan jou voorskoot aan en kom bedien my terwyl ek eet en drink. Daarna kan jy self eet en drink.’ 'n Slaaf wat sy opdrag uitgevoer het, word mos nie bedank nie, of hoe? So is dit ook met julle: as julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: Ons is slawe wat niks verdien nie. Ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Lukas 17:7-10)
God skuld ons niks. Ons sal altyd by Hom in die skuld wees want ons kan Hom nooit terugbetaal vir die liefde wat Hy deur sy Seun, Jesus Christus, aan ons bewys het nie.
Dit maak nie saak wat ons in sy diens bereik nie, ons bly maar doodgewone slawe wat slegs ons plig doen.
God is die Skepper en ons is deel van sy skepping; ons bestaan vir Hom en nie Hy vir ons nie.
Gebed: Almagtige God, skenk aan ons die genade om ingestel te wees op die leiding van u Heilige Gees sodat ons altyd getrou en met ywer dit wat U van ons verlang, kan uitvoer. Amen