Om te ween vir die wêreld - 17 Desember 2015
Hennie Symington
ʼn Gekerm word op Rama gehoor, ʼn gehuil vol hartseer. Ragel treur oor haar kinders, Sy wil haar nie laat troos nie, Want haar kinders is weg. Jeremia 31:15
Christene wêreldwyd is tans in verwagting terwyl ons uitsien na die geboorte van Christus. Vanjaar was nie ʼn goeie jaar vir die mensdom nie. Ons gemoed skiet vol van al die pyn en hartseer wat ons vanjaar aanskou het. Is dit die tipe wêreld wat ons aan ons Verlosser bied in die 2015e jaar sedert sy geboorte? Het niks dan verander nie?
Die wêreld is oorweldig deur oorlog en vernietiging en in die Midde-Ooste kry die draak wat die wêreld wil verslind nuwe betekenis met die opkoms van IS met sy onmenslike slagting van mense en vernietiging van die beskawing. Dit is asof die moord van die onskuldiges tydens Christus se geboorte weereens in al sy wreedheid voor ons oё afspeel.
Ons besef dat die wêreld meer as 2000 jaar na Christus se geboorte niks verander het nie. Die bose in al sy gedaantes is steeds teenwoordig onder ons. Haat, onreg, morele aftakeling en vernietiging is steeds met ons. Die Romeine het geen genade geken nie en die idee van menseregte was nie eens ʼn opsie nie. Selfs die Joodse samelewing het die regte van die armes en die uitgeworpenes vertrap. So wat is nuut?
Dit is juis in hierdie wrede wêreld van magsvertoon, oorlog, onreg en uitbuiting dat Christus aarde toe kom as ʼn praktiese demonstrasie van God se ware hart. Hy open die weg vir mense om Hom te vind deur ʼn pad van liefde en nie deur die wet van eksklusiwiteit en onmenslike beperkings nie. Met die geboorte van ʼn kind in nederige omstandighede, breek daar ʼn nuwe era aan waar ons as gelowiges opgeroep word om nou, meer as ooit te vore, geboorte te skenk aan Christus se liefde en vergifnis in ons tyd en in die wêreld waarin ons leef.
Gebed: Here, in hierdie tye verlang ons nou meer as ooit te vore in die onlangse geskiedenis van die wêreld na u teenwoordigheid. Dankie dat ons die versekering het dat U ons nooit sal verlaat nie. Amen